Dertig leerders van Noord-Kaapse skool swanger gemaak deur onderwyser

Drie onderwysers van die Bothithong High School buite Kuruman in die Noord-Kaap is geskors nadat bewerings aan die lig gekom het dat tot 30 meisies by die skool deur ʼn onderwyser swanger gemaak is.

Maroela Media het vroeër berig die Noord-Kaapse departement van onderwys het ʼn ondersoek van stapel gestuur nadat bewerings oor die swanger hoërskoolleerders aan die lig gekom het.

Geoffrey van der Merwe, woordvoerder van die departement, het Vrydag die drie onderwysers se skorsing bevestig.
“Die ondersoek na bewerings van seksuele verhoudings tussen onderwysers en leerders het aan die lig gebring dat drie onderwysers hierby betrek word. Die proses om hulle voorlopig te skors het dus reeds begin,” het Van der Merwe gesê.

Hy het gesê daar kon tydens die ondersoek egter geen bewyse gevind word dat onderwysers leerders by die skool swanger gemaak het nie.

Van der Merwe het vroeër gesê volgens die departement se rekords was daar in die afgelope drie jaar 16 leerders by die skool swanger. “Daar sal bepaal word of die skool enige verdere ondersteuning met betrekking tot berading aan leerders en onderwysers benodig,” het hy gesê.

“Dit is belangrik dat al die wetlike prosesse gevolg word sodat die dissiplinêre proses regverdig is teenoor die klaers sowel as die beweerde oortreders.”

Van der Merwe het gesê die departement het ʼn span ondersoekers na die skool ontplooi om die bewerings behoorlik te ondersoek.

Martha Martlett, LUR vir onderwys, sal ook Maandag die skool besoek.

Deur: Maroela Media


Enjoyed this post? Share it!