Desentraliseer plaaslike regering vir beter dienslewering

Groot distriksmunisipaliteite is lomp en weens faktore soos swak ANC-raadslede lewer dit nie die nodige diens aan gemeenskappe nie.

Plaaslike regering moet eerder gedesentraliseer word sodat dit in kleiner munisipaliteite nader aan die mense dienslewering kan verbeter, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dr. Groenewald het vandag met die parlementêre debat oor die effektiwiteit en rol van provinsies en distriksmunisipaliteite gefokus op distriksmunisipaliteite en gesê distriksmunisipaliteite het oorbodig geraak en stort in duie weens die onbevoegdheid van ANC-raadslede.

Volgens dr. Groenewald het distriksmunisipaliteite reeds in die jare tagtig ontstaan. Stadsrade se juisdiksiegebied was beperk en daar was sekere gebiede waar hulle nie jurisdiksie gehad het nie. Die doel van distriksmunisipaliteite was daarom om daardie gebiede se diens te verbeter en om ontwikkelings te doen.

“Distriksmunisipaliteite voor 1994 was juis om landelike gebiede te bedien met dienste soos water en paaie.
“Stadsrade of munisipaliteit grens tans aan mekaar en dus is daar nie meer gebiede wat nie onder een of ander munisipaliteit se jurisdiksie is nie. Dit het distriksmunisipaliteite dus oorbodig gemaak.

Daar is tans 44 distriksmunisipaliteite in Suid-Afrika met sowat 500 proporsioneel-verkose raadslede.
“Die VF Plus se standpunt is dat dié munisipaliteite oorbodig geraak het en net liggame vir kaderontplooiing geraak het.

“Mag op plaaslike vlak moet eerder gedesentraliseer word na laer vlakke. Munisipaliteite moet verklein word sodat plaaslike regering nader aan die kiesers kan kom. Eers dan kan distriksmunisipaliteite weer oorweeg word,” sê dr. Groenewald.

Dr Pieter Groenewald/Vryheidsfront Plus


Enjoyed this post? Share it!