Desperate Politici Roep die toordokter se hulp in

Desperate politici klop toenemend by sangomas in Pretoria aan om ’n bietjie verkiesingshulp.

Dithako Nakedi, ’n voormalige joernalis wat ’n sangoma (tradisionele geneesheer) geword het, het aan Rapport ’n kykie gegee in dié ongewone gebruike van politici wat desperaat is om ’n setel en ’n stewige salaris as raadslid in die komende verkiesing te wen.

“Ek praat hier van politici van oor die politieke sentrum,” sê hy.

Nakedi het as joernalis naam gemaak deur ’n bedenklike pastoor – wat later bekend geword het as die “phuza pastor” (drinkende pastoor) – te ontmasker.

Dié pastoor het almal wat by hom om hulp kom aanklop het, beveel om ’n sopie brandewyn saam te bring.

Nakedi van Soshanguve, Pretoria, sê hy was self verras oor die toename in politici wat nou by hom kom aanklop.

Heelparty sangomas in Soshanguve het aan Rapport gesê Nakedi is die man om mee te praat wanneer dit kom by die politiek. Nie een van hulle wou die identiteite van hul kliënte bekend maak nie weens “kliëntevertroulikheid”.

“Een dame het my tydens die benoemingsproses kom sien. Sy het gesê sy het in die verlede, soos dit die perfekte opkomende swart middelklasvrou betaam, nooit sangomas gaan sien nie.

“Maar toe het sy ’n konferensie in die noordelike voorstede van Johannesburg bygewoon en sy was geskok om moetie (kruie) in die gange van ’n luukse hotel te ruik,” sê Nakedi. Sy het toe besluit dat sy ook ’n sangoma moet raadpleeg.

Nakedi sê nog een van sy kliënte het kom aanklop nadat hy gesien het hoe ’n “profeet” van die ander kandidate in Pretoria met “heilige” water besprinkel het. Dié kliënt wou nie benadeel word deur nié geseën te word nie, verduidelik hy.

En Nakedi help graag.

Bron: Rapport


 

Enjoyed this post? Share it!