Die agbare parlementslid meen ‘Van Riebeeck het 2 000 jaar gelede als gesteel’

Nie almal wat Suid-Afrika besoek – soos Jan van Riebeeck wat destyds hier aangekom het – kom met die regte voornemens nie.

Só het Deborah Dineo Raputhi, ANC-parlementslid, Donderdag gesê kort voordat die nasionale vergadering (NV) die Wysigingswetsontwerp op Immigrasie aanvaar het.

Dié wetsontwerp maak voorsiening vir strafmaatreëls teenoor buitelanders wat langer in Suid-Afrika aanbly as wat hul visums toelaat.

Onder die strafmaatreëls tel dat buitelanders wat hul verblyf in die land oorskry, nie meer in aanmerking kom vir ’n visum, toegang tot die republiek of ’n permanente verblyfpermit tydens ’n voorgeskrewe tydperk nie.

Buitelanders wat tans hul verblyf in die land oorskry, is onderhewig aan ’n boete.

Raphuti het in die debat op die wysigingswetsontwerp gesê toe Van Riebeeck “2 000 jaar gelede” hier aangekom het, was dit om ’n halfwegstasie te bou.

“Hulle het alles gesteel, selfs ons waardigheid omdat hulle misbruik gemaak het van ons goedheid,” het sy gesê.

Sy is uit die opposisiebanke gekoggel toe ’n DA-LP op ’n punt van orde daarop gewys het dat Van Riebeeck nie 2 000 jaar gelede na Suid-Afrika gekom het nie.

“Op watter datum hy ook al hier aangekom het, hetsy dit 2 000 jaar gelede of wat ook al is, hulle het ons grond gesteel. Dit is waarom die ANC ons waardigheid wil terugbring,” het Raputhi gesê.

Lemias Mashile, voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor binnelandse sake, het die wysigings as noodsaaklik en dringend bestempel en gesê dit sal help om die vloei van buitelanders in die land te reguleer.

Opposisiepartye het die wysigings aanvaar.

Die wysigingswetsontwerp is vir oorweging na die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) verwys.

Bron – Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!