Die ANC raak nou te gemaklik met hulle nuwe afrikaanse terme, soos wit monopoliekapitaal !!

Al is daar bewyse dat Bell Pottinger skadelike en valse terme en narratiewe soos ‘wit monopoliekapitaal’ geskep het en selfs daaroor om verskoning gevra het, het die ANC dit nogtans sy eie gemaak om wittes die skuld te gee vir die ekonomiese krisis in die land.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê die ANC gebruik die term nou gerieflikheidshalwe as rookskerm vir die ware redes vir die ekonomiese kreeftegang, en dit is die skade wat aangerig word weens “affirmative action” (AA) en swart ekonomiese bemagtiging (SEB).

Hy sê AA en SEB veroorsaak onder meer dat poste van kritieke belang regdeur die openbare sektor nie gevul word nie, en dat onbevoegde mense en kontrakteurs aangestel word wat tot dubbele uitgawes lei.

“Terwyl swartmense lank reeds deur AA en SEB bevoordeel word ten koste van wittes, het die woord wit monopoliekapitaal nou ongelukkig ʼn populistiese narratief geword.

“Die oogmerk hiermee was om verdeling te skep om te verseker dat persone en faksies in die ANC in beheer bly van die magshefbome om toegang tot die staatsbeursie te verkry en om die aandag af te lei van die staatstroping.

“Dit rig enorme skade aan, nie net wat rasseverhoudinge in die land aanbetref nie, maar dit stuur ook ʼn negatiewe boodskap aan enige voornemende wit belegger in Suid-Afrika,” sê dr. Groenewald.


Enjoyed this post? Share it!