Die Koerde, die Katalane en die Afrikaners

koerde

Onafhanklikheid wink vir Koerdistan. Foto: Safin Hamed/Thekurdishproject.org

In die volgende twee maande gaan twee referendums gehou word wat heelwat implikasies vir Europa sowel as die Midde-Ooste inhou. Op 25 September gaan die Koerde in die Noorde van Irak ʼn referendum hou oor onafhanklikheid. Skaars ʼn week later, op 1 Oktober, gaan die Katalane in die noordooste van Spanje ook stem of hulle onafhanklik wil wees.

Hoewel die Koerde sowel as die Katalane se onafhanklikheidstrewe reeds vir dekades bekend is en albei gebiede tot ʼn groot mate reeds heelwat outonomiteit verkry het, is onafhanklikheid ʼn onbekende stap vorentoe. Onafhanklikheid, en die wettigheid van afskeiding, word ook tewens teengestaan deur die Irakse sowel as die Spaanse regering.

Nasiestate

Onafhanklikheidstrewes is nie ʼn nuwe konsep nie. Nasiestate soos ons hulle vandag ken, byvoorbeeld Duitsland, België, Turkye, Lesotho, Japan en ander, was al vir eeue betrokke in die strewe na onafhanklikheid. Heelwat oorloë is al daaroor gevoer, insluitend burgeroorloë, en daar is sekerlik tans dosyne onafhanklikheidsbewegings wat gewelddadig of vreedsaam poog om onafhanklik te word.

Hoewel die post-Koue Oorlog wêreld geskoei is op regionale samewerking asook individuele belange, regte en die benadering dat almal wêreldwyd maar eintlik dieselfde is, eerder as nasionale of etniese strewes, het heelwat state in die afgelope 25 jaar onafhanklikheid verkry oor feitlik al die vastelande heen.

In Europa het die voormalige Sowjetunie aan die begin van die 1990’s gedisintegreer en 15 onafhanklike lande gevorm. Daarna het die ou Joego-Slawië in duie gestort en ná jarelange oorloë het die sogenaamde Balkan-state een vir een onafhanklikheid verkry, soos Kroasië en Slowenië. Die jongste onafhanklike state in Europa is Montenegro (2006) en Kosovo (2008).

In Afrika, waar lidlande van die Afrika-unie (AU) en sy voorganger, die Organisasie vir Afrika Eenheid (OAE), vir jare lank geen grensverandering geduld het of afstigting van nuwe onafhanklike state erken het nie, moes hulle later ingee en is Eritrea (1991) en die Suid-Soedan (2011) onafhanklikheid gegun. So ook het Oos-Timor in 2002 in Asië ʼn onafhanklike staat geword.

Volgens internasionaal erkende volkereg kan ʼn land as onafhanklik beskou word indien die inwoners ʼn fisieke geografiese gebied beset, die gebied kan bestuur en beskerm, belastings invorder en onafhanklik in terme van buitelandse beleid en militêr optree.

So byvoorbeeld voldoen Skotland feitlik aan al die vereistes en het selfs ʼn eie parlement, maar die Britse regering tree internasionaal en militêr namens die Skotte op. Skotland het dus selfregering maar het nog onlangs net-net besluit om nie onafhanklik te word nie. Dieselfde geld vir Palestina, wat glad nie onafhanklik is nie, maar deur baie lande (soos Suid-Afrika) as onafhanklik erken word. Ook die Sahrawi Republiek (wat ʼn outonome gebied binne die Marokkaans-beheerde Wes-Sahara is) word erken as ʼn onafhanklike staat deur die AU ten spyte daarvan dat die “regering” daar feitlik geen beheer oor die gebied het nie en Marokko die oorgrote deel van die gebied beset. Terloops, die ANC-regering erken ook die Sahrawi Republiek se onafhanklikheid.

katalonië-flickr

Op 1 Oktober sal die Katalane in die noordooste van Spanje ook stem of hulle onafhanklik wil wees. Foto: SBA73/Flickr.com

Hoop vir die Koerde en Katalane

Die Koerde word as ʼn etniese groep beskou hoewel die meeste Moslems is en ook Arabies praat. Die Koerde word nie net in Irak aangetref nie, maar is teenwoordig in verskeie lande, insluitend Turkye, Irak, Iran en Sirië. In Turkye word hulle erg onderdruk weens die aksies om deur geweld onafhanklikheid te verkry. Daarenteen het die Koerde in Irak lank reeds selfregering as gevolg van die Amerikaans-geleide Golfoorloë in 1990 en 2003. Die Koerde het die verval van Irakse militêre beheer in albei gevalle aangegryp en funksioneer basies onafhanklik. Hul selfregering was egter onlangs in die gedrang nadat die Islamitiese Staat (Isis) die Koerdiese stad Mosoel vir drie jaar beset het. Die Koerde het gevolglik hul aanspraak om onafhanklikheid uitgestel, maar nadat Isis in Julie vanjaar uit Mosoel verdryf is, het die Koerde besluit die tyd is reg vir ʼn referendum oor onafhanklikheid.

Die internasionale gemeenskap is versigtig en diplomaties oor die referendum. Irak self beskou dit as ongrondwetlik en buurstate met Koerdiese bevolkings soos Turkye, Sirië en Iran verwerp die idee. Natuurlik vrees hulle dat hul eie Koerdiese bevolkings ook op onafhanklikheid sal aandring sou die Irakse Koerde suksesvol wees.

Dit lyk nietemin na ʼn uitgemaakte saak dat die Irakse Koerde teen gunste van onafhanklikheid sal stem. Hulle voldoen ook aan al die volkekundige vereistes om wel onafhanklik te word. Nietemin is die eintlike toets vir onafhanklikheid internasionale erkenning.

So het Suid-Afrika onder die vorige regering onafhanklikheid toegeken aan swart etniese groepe in lande soos Bophuthatswana, Transkei en Venda, maar die lande is nooit internasionaal erken as onafhanklik nie en hulle is maar geforseer om weer deel van Suid-Afrika te word. Het hulle volkeregtelik aanspraak gehad op onafhanklikheid? Ja, beslis. ʼn Grondgebied, etniese meerderheid, belastinginvordering en selfs ʼn buitelandse beleid en ʼn weermag. Die idee dat onafhanklikheid by die bevolking lê en opgeëis kan word, is dus legitiem, maar word onder sekere omstandighede deur die internasionale gemeenskap verwerp.

Wat ná die referendum gaan gebeur is ʼn ope vraag. Dit word betwyfel of die Irakse regering sal besluit om die Koerdiese gebied binne te val, selfs al verklaar hulle onafhanklikheid. Hulle gaan eerder probeer om deur druk op buurlande en die VN die Koerde se onafhanklikheid te ontken. Dit sal “Koerdistan” dus teoreties onafhanklikheid gee (soos eintlik reeds jare gebeur), maar nie amptelik nie.

Dieselfde kan geld vir die Katalane. Ná ʼn jare lange stryd teen die Spanjaarde het die Katalane (soos die Baske) outonomiteit verkry. In die Baske se geval het ʼn terreurbeweging die Spaanse staat beveg en is eers onlangs onder beheer gebring.

ʼn Onafhanklike Katalonië, wat ʼn groot stad soos Barcelona insluit en ʼn groot deel van Spanje se ekonomie beheer, sal rampspoedig vir die Spaanse ekonomie wees. As EU-lidland (naamlik Spanje) sal Katalonië moeilik kan ontsnap van EU-beheer en die EU-lande sal waarskynlik nie Katalonië as onafhanklike staat erken nie. Soos met Brexit kan dit ’n reuse-kopseer word vir die EU.

Anders as in Brittanje, waar die Britse regering Skotte die opsie gegee het om te besluit oor onafhanklikheid, is die Spaanse regering gekant daarteen. Spanje sal eweneens nie sommer militêr optree teen Katalonië sou laasgenoemde onafhanklikheid verklaar nie. Die Spanjaarde dui aan dat die grondwet nie voorsiening maak vir onafhanklikheid nie. Eweneens sê die Katalane dat die grondwet nie afstigting verbied nie!

Sou Katalonië wel aandring op onafhanklikheid en sy grense sluit, is daar nie eintlik veel wat die Spanjaarde kan doen buiten om deur hul Europese vennote Katalonië ekonomies te isoleer nie.

Internasionale erkenning

Waar laat hierdie ontwikkelinge ander onafhanklikheidstrewes? Dit wys ons eerstens dat die tydperk van vorming van nuwe nasiestate nog glad nie verby is nie. Dit is duidelik dat onafhanklikheid van die Koerde en Katalane ander nasies se strewe na onafhanklikheid kan bevorder. Ons het al ʼn gebrom gehoor dat Kalifornië wil afstig van die VSA nadat Donald Trump president geword het. Eweneens was daar voor die ontstaan van die “nuwe” Suid-Afrika in 1994 ʼn sterk gevoel dat Natal (nou KwaZulu-Natal) onafhanklikheid moet verkry. Dit het gevolg op heelwat etniese geweld in daardie provinsie waarin duisende omgekom het. Daar het ook al ʼn paar stemme vir ʼn onafhanklike Wes-Kaap opgegaan, al is daar geen bewese steun daarvoor nie.

Ons kan seker aanneem dat ʼn redelike deel van die Afrikaners ook nie sal omgee om onafhanklik van die chaos, misdaad en korrupsie van Suid-Afrika te leef nie. Ten spyte daarvan is progressiewe inisiatiewe soos Orania klein en ondersteun die meerderheid Afrikaners (oënskynlik) nie so ʼn opsie nie.

Afrikaners is, anders as die Koerde of Katalane, ook nie beperk tot sekere geografiese eenhede nie, maar oor die hele Suid-Afrika versprei. Selfs deur ooglopende en wettige volkeregtelike aansprake bly die kernvraag of daar enige internasionale erkenning sal wees van só ʼn opsie.

Dit lyk tans of internasionale erkenning ʼn onafhanklike Koerdistan of Katalonië en ander moontlike vryheidstrewes kniehalter.

Enjoyed this post? Share it!