Die Kontroversiële vraag: HET MMUSI MAIMANE SOPAS SY EIE PARTY NA SELFMOORD GELEI?

Die sage rondom die skorsing van Helen Zille uit die DA skud nou ‘n klompie geraamtes uit die kas daar.

Nadat Maimane met groot fanfare gister aangekondig het dat Zille geskors word maar aanbly as premier van die Wes Kaap, het Zille gereageer met ‘n verklaring waarin sy wys daarop dat dit ‘n onregmatige stap is ingevolge die party se prosedures en dat sy inderdaad slegs versoek is om teen Dinsdag redes te verskaf waarom sy nie geskors behoort te word nie.

Die DA het ondertussen aangekondig dat Zille nou weer nie geskors is nie. Maimane swyg egter soos die graf nadat ‘n storm van protes op die sosiale media losgebars het. Ondertussen het beide die ANC en Maimane se politieke vennoot, die EFF, Zille se skorsing verwelkom.

Daar is natuurlik ook die grondwetlike vraagstuk: Kan Zille premier wees as sy nie die party wat in die Provinsiale verkiesing die meerderheid behaal het, verteenwoordig nie?

En nou sit Mmusi met ‘n groot probleem.

Gaan die skorsing voort, skeur sy party. Gaan dit nie voort nie, is sy geloofwaardigheid as leier daarmee heen. Skors hy Zille is hy die wit en bruin stem, wat die Wes-Kaap vir die DA gegee het, kwyt. Skors hy haar nie, kan hy maar vergeet van die swart stem.

Inderdaad sit Mmusi in presies dieselfde stoel as Jacob Zuma. Al wat hy kan aanvoer is dat die DA minder korrup is as die ANC, maar daaraan sluk die kiesers ook swaar, want sopas is ‘n senior DA amptenaar van Mosselbaai Munisipaliteit aangekla van juis korrupsie.

Wat Mmusi ookal hierdie week doen, die DA gaan verdeel. En aangesien die DA met moeite vasklou aan sy opposisiestatus met ietsie in die 20% steun teenoor die meer as 60% van die ANC, laat dit die deur oop vir die EFF om na 2019 die opposisiebanke te betrek.

Die ramp wat daarop sal volg hoef ‘n mens seker nie te verduidelik nie.

Wat inderdaad in die DA gebeur het, is bloot ‘n kleiner weergawe van wat in Suid-Afrika gebeur het sedert 1994. Multikulturalisme het misluk. Die verskille tussen bevolkingsgroepe in die land is té onversoenbaar om Suid-Afrika aan mekaar te hou. Die DA het ‘n droom probeer leef, maar gister het die wekker vir hulle ook afgegaan. En die wit DA kieser het met ‘n skok besef dat sy stem vir 23 jaar gemors is op ‘n sak leë beloftes. Die DA is niks anders as die ANC nie.

Ontnugter vra ‘n DA kieser my gisteraand: Nou wat maak ek nou?

Waarop my antwoord is: Dis nie meer jou verantwoordelikheid om De Klerk, Mandela, Maimane en Zuma se dagdroom vir hulle te probeer red nie. Nou moet jy iets vir jouself en jou nageslag probeer red. Front Nasionaal sal nie, soos wat by ander partye gebeur het, ons verlekker in jou teleurstelling nie. Dis ‘n kleinsielige mens wat sê: Lekker, kry vir jou, jy wou mos nie hoor nie!

Inderdaad sê ons: Jy het nou self jou fout ingesien. Jy is welkom by ons. Laat ons 2019 die jaar maak waarin ons prioriteit Afrikanerselfbeskikking is. Mmusi moet nou sy eie bas red…hy gaan nie jou belang nou eerste stel nie!

Bron: Front Nasionaal


Enjoyed this post? Share it!