Die koppe van sekere ANC lede gaan rol.

Die ANC besef dit gaan nie maklik wees om presies te bepaal wie van die sowat 26 parlementslede gestem het vir die mosie van wantroue in hul leier, Jacob Zuma nie. Boonop is die party verdeeld oor of daar gepoog moet word om hulle uit te snuffel en te vervolg of nie.

In ‘n poging om die beide kante tevrede te hou, het die ANC se werkskomitee aangekondig dat hulle wel die parlementslede wat openlik gesê het hulle gaan vir die wantrouemosie stem, gaan dissiplineer.

Die ANC se sekretaris-generaal, Gwede Mantashe, sê hulle gaan geen heksejag uitvoer nie, maar die lede wat openlik gesê het hulle gaan die mosie steun, gaan gedissiplineer word, want as die party dit nie doen nie, sal dit die noodsaaklikheid om ‘n organisasie te wees sal vernietig.

Die name wat in die verband genoem word, is dié van voormalige ministers Pravin Gordhan, Derek Hanekom en LP’s Makhosi Khoza en Mondli Gungubele.


Enjoyed this post? Share it!