Die Kwaai Braai Paai

Die Kwaai Braai Paai

kwaai braaipan1
Hierdie pastei kan op die kole gebraai word. Baie variasies met verskillende vulsels kan uitprobeer word. Sommige met vleis en ander heeltemal vegetaries. Probeer gerus jou eie variasie. Die pastei kan die volgende dag weer koud geëet word en is dan net so lekker.
BESTANDDELE
Twee rolle skilferkorsdeeg (koop sommer klaar by supermark)
Twee dubbelle handevol gesnipperde spinasie
Enige tipe gaar vleis, maar gerookte hoederborsies is lekker
250 gm spek 1 groot ui 1 rooi soetrissie 1 geel soetrissie
250 gm sampioene
100 gm Fetta kaas
100 gm Cheddar kaas
100 gm Mozzarella kaas
1 hoendereier
¼ koppie melk
METODE
Ontdooi die deeg vooraf en rol uit op ‘n snyplank.
Braai die ui en spek en laat effens afkoel.
Kerf die vleis, spinasie, kaas en rissies grof.
Plaas nou eers die helfte van die rou spinasie op die deeg, pak dan die vleis op, dan die spek en uie gevolg deur die sampioene.
Sprinkel so nou en dan ‘n bietjie van Ina Paarman se Rosemary en Olive speserye en swart peper op – nie sout nie. Die bestanddele is sout genoeg.
Nou volg die drie kase en laastens word alles afgerond met die ander helfte van die spinasie.
Sit die boonste laag deeg op en vou die rante dig toe. Dit is nogal ‘n hoë hopie bestanddele, maar druk dit maar vooraf ‘n bietjie plat en sit dan die deeg op. Verf die deeg met ‘n mengsel van eier en melk
Gebruik ‘n toebroodjierooster met randjies en braai die pastei nie te laag op die kole nie. Draai gedurig om en braai vir ongeveer 20 minute tot die deeg mooi bruin is. Sny in porsies en geniet dit.
Vir ‘n vegetariese pastei kan die vleis net uitgelos word. Dis steeds heerlik. Maak ook jou eie kombinasies op.
Die Kwaai Braai Paai is na 20 minute gereed!
Deur Intiem tydskrif

Enjoyed this post? Share it!