Die Lot van blankes in Afrika, insluitend Suid-Afrika

Een van die onderwerpe waaroor ek al baie gelees het, is die lot van blankes in Afrika. Ek vind dat ek heelwat genade nodig het wanneer ek hieroor lees. Selfs meer genade word benodig wanneer ek daaroor skryf.

In Algerië het ‘n miljoen blankes tydens en onmiddellik na die onafhanklikheidsoorlog (1954-1962) uit die land gevlug. Hierdie blankes was hoofsaaklik Franse, Spanjaarde en Italianers, dus mense afkomstig uit Europese lande aan die Middellandse See. Blankes wat Suid-Afrikaanse inwoners was, het hulle in die vorige eeu in beduidende getalle in veral Kenia, (Suid-)Rhodesië/Zimbabwe, Suidwes-Afrika/Namibië en Angola gevestig. Baie van hierdie blankes was Afrikaners. In die tweede helfte van die 20ste eeu het Harold MacMillan (1894-1986) se anti-koloniale winde van verandering in al hierdie lande gewaai. Oral is die blankes se regte erg ingekort en hulle belange benadeel. Hulle veiligheid is dermate bedreig dat hulle in groot getalle daardie lande verlaat het. Op ‘n skeefgetrekte manier het Suid-Afrika in 1990/94 ook die prooi van hierdie anti-kolonialisme geword, al het die land sedert 1652 ‘n gevestigde blanke bevolking. In Algerië was dit sedert 1830, toe daardie land ‘n Franse kolonie geword het.

Oor Afrikaners in hierdie lande is seker die minste oor dié in Angola geskryf. Die publikasie van Marthie Prinsloo-Voigt (gebore in 1931) se boek, ‘n Leeftyd later: Herinneringe aan Angola (Pretoria: Protea Boekhuis, 2017, 231p, R250), behoort dus verwelkom te word. Sy het ‘n suster en vier broers gehad, maar die laaste een van hierdie Prinsloos is in Augustus 2015 oorlede. As die laaste oorlewende het sy gemotiveerd gevoel om haar herinneringe aan ‘n vergane era op skrif te stel. “‘Kan ons tog maar net teruggaan …’ en vir mekaar vra: ‘Onthou jy nog?’” (56). “Hierdie Oktober [2015] wat verby is, was dit die eerste keer in al die jare dat nie een van hulle [haar broers] vir my kon vra ‘Onthou jy nog?’ nie, want hulle geliefde stemme het stil geword. Dis nog net ek wat [die viering van haar verjaardag op] Panguelo [in Angola] onthou” (82).

“Ons het soveel ervaar en beleef in daardie wilde oerwoudagtige wêreld” (137). As pioniers het die Afrikaners destyds “met volharding die wildernis help tem” (154). “Die pad na die eens florerende plaas, Capolopopo, het nou vir die Prinsloos vreemd geword; plek-plek toegegroei, want die spore van eens het dof geword” (148). Maar hulle “wonderlike saamdoentye is onvergeetlik” (159). Marthie Prinsloo het haar herinneringe voortreflik op skrif gestel. In baie opsigte is sy ‘n merkwaardige mens. Deesdae het ons skielik allerhande moeders van die nasie; vroue waarvan die meeste blankes geen sout of water weet nie en waarmee ons nie kan of wil assosieer nie. Vir Afrikaners sou Prinsloo ‘n uitstekende kandidaat vir volksmoeder kon wees. Sy is ‘n Afrikaner uit een stuk wat oor baie dekades gegee en gebou het tot voordeel van ander mense, insluitende haar volksgenote.

Wat die interessantheid van haar vertelling verhoog, is dat die Dorslandtrekkers en hulle nasate ‘n groot rol daarin speel. “Hierdie Dorslandtrekkers het eintlik Angola ‘mak gemaak’ soos ons altyd gesê het, want hulle het so ver as wat hulle getrek het paaie gemaak tot diep in die binneland” (113). Daar was ook Duitse setlaars wat hulle, soos in Suidwes-Afrika, veral in die sentrale deel van Angola gevestig het. In sowel Suidwes-Afrika as Angola was die Afrikaners veral in die suide van daardie lande invloedryk. ‘n Verskil is dat waar ondertrouery met veral Nama-vroue aanvanklik in geringe mate onder Afrikaners in Suidwes-Afrika voorgekom het (ELP Stals, Môrewind oor die Karasberge, Pretoria: Protea Boekhuis, 2016), die Afrikaners in Angola, heel moontlik vanweë die loutering wat die Dorslandtrekkers deurgemaak het, hulle blankheid bewaar het. Die outeur is in 1954 met ‘n Duitser, Carl-Wilhelm Voigt (1931-1998), wat ‘n Afrikaanse ma gehad het (“‘n Dorslandtrekkerkind” – 101), getroud en hulle het vier kinders gehad, waarvan drie nog lewe. In 1974 het die familie hulle laaste Kersfees op die Voigt-landgoed in Angola gevier. Vir my is die treffendste foto in die boek van die 14 pragtige, krakielose, blanke Voigt-kleinkinders. Die Afrikaners wat nie met mede-Afrikaners getrou het nie, het blykbaar veel eerder met Duitsers as met Portugese getrou.

Die outeur is by Grootfontein in Suidwes-Afrika gebore. Haar ouers was die kinders van Dorslandtrekkers wat in 1928 uit Angola padgegee en hulle in Suidwes-Afrika gevestig het. “Ek sou jare later eers hoor hoe swaar hulle [haar ouers] gekry het om te oorleef” (p 15). In 1940 het die gesin na Angola teruggekeer. Die destydse plase van die Dorslandtrekkers was intussen in die sorg van Afrikaners wat daar agtergebly het of in dié van plaaswerkers wat deur die eienaars vanuit Suidwes-Afrika bestuur is. In sommige gevalle het Portugese van die plase beset, maar soos Prinsloo meer as een keer opmerk, was die Portugese meesal nie suksesvolle boere nie (26, 113). Die Prinsloos het deur die jare op verskillende plase geboer. Daar was ook die gebruik om ter wille van die weiding en gesaaides in die winter en somer op verskillende plase te woon. Wat opval, is dat hulle op iedere plaas waar hulle hulle gevestig het, self die huis en ander strukture gebou het. “My liewe ou pa [het] altyd eerste aan my ma en ons gerief gedink” (75). Daar was geen sprake van dat hulle handegevou kon sit en wag dat die owerheid huise vir hulle bou en aan hulle skenk nie. “Dit was soos ons lewe in daardie moeilike tye was, elkeen moes sy of haar kant bring om te help oorleef, en glo my, ons het nooit gevra nie, net gedoen. Vreemd soos dit mag klink, was die werk vir ons lekker” (32). “Die lewe moes aangaan en elkeen moes sy kant bring” (35). “Ons het nooit bediendes in die huis gehad nie” (66).

Afrikaans het die huistaal van hierdie Afrikaners gebly. Daar was teenkanting teen Engels. “Ons het alles geweet van die Vryheidsoorlog. As gevolg daarvan het ek ‘n intense weersin teen Engels ontwikkel” (20). “My Engels was maar beroerd” (89). Hulle kon Portugees en van die inboorlingtale praat en in sommige gevalle ook Duits. Hulle kennis van Afrikaans is deur boeke en tydskrifte gevoed wat onder mekaar gesirkuleer is. Die Rooms-Katolieke skole wat daar was, is deur die Afrikaners vermy. Die ouers het hulle kinders so goed moontlik probeer leer en die ouer kinders het die jonger kinders geleer. Die outeur is die produk van hierdie onderrig. Dit is merkwaardig dat sy ‘n boek soos hierdie een in uitstekende Afrikaans kon skryf. Hulle het nie met hulle hande gevou gesit en gewag dat geleenthede aan hulle gebied word nie. Hulle het hulle geleenthede self geskep. “Dit … wys hoe ‘n klein groepie Boeremense hul tradisies kon handhaaf en mekaar ondersteun” (35-36). “Dus het ons ten spyte van die groot dele ongetemheid nie agterlik geleef nie” (112). “Dis mos lekker om naby aan jou eie mense te wees” (42).

Die Afrikaners se verhouding met hulle swart werkers was goed. “Anders as wat baie mense dink of vertel, het die Boere die land se swart mense baie goed behandel” (28). Baie van die swartes het Afrikaans magtig geword, onder andere dié wat deur die Afrikaners as weeskinders grootgemaak is en as “mak volk” bekend gestaan het (23, 131). “Daardie tyd kon mens jou huis toetrek en weggaan en niemand sal ooit iets gaan verniel of breek nie” (46). “Ons is drie jong kinders in die wye wildernis, ons moet ons eie vermaak soek in die veld; tussen wilde diere en vreemde swart mense wat altyd goed en vriendelik met ons was … Ons kon hulle taal soos hulle self praat” (48).

Op die plaas Leeukloof in sentraal Angola het die protestantse Duitsers ‘n tweetalige skool, Duits en Portugees, tot stand gebring. Dit is mettertyd na Benguela verskuif en daarna gesluit toe die Duitsers weens politieke onrus op groot skaal Angola verlaat het. Die Afrikaners het in 1953 begin met pogings om ‘n eie skool op Tunda tot stand te bring, wat tot 1957 bestaan het. “Die murasies wat eens ‘n skool was … staan vandag nog steeds as stille getuie van ‘n droom wat vir ‘n kort tydjie werklik was” (121). ‘n Foto wat in 2011 geneem is, toon ruïnes as die oorblyfsels van hierdie mooi ideaal.

As plaaskind kon die outeur enigiets doen wat met boerdery en huishou te make het. As jong meisie was sy ‘n leerlingverpleegster op Outjo in Suidwes-Afrika. Daarna kon sy haar familielede en ander mense medies versorg en het sy dikwels as vroedvrou opgetree. “Ons het nie probleme met die swart mense nie en ek begin om hulle siekes te behandel, wonde te versorg en veral vir die kleintjies medisyne te gee as hulle siek is” (133). Later was hulle verplig om met baie moeite en teen groot onkoste hulle plaas van 2000 hektaar te omhein omdat “swartes … hul diere in ons veld … laat wei” (134; ook 145).

Politieke onrus het in die jare sestig in die noorde van Angola begin. Dit het oor die hele land uitgebrei. Weens intimidasie en terrorisme is die goeie verhouding tussen die blankes en swartes versteur. “Teen die 1960’s is daar nog ‘n klomp Afrikaners wat in 1928 in Angola agtergebly het terug na Suidwes of Suid-Afrika” (137). In die noorde van Angola in Saurimo en Bié se wêreld het daar nog enkele Boere gewoon, “maar hulle is later tydens die terroristeaanvalle feitlik almal uitgemoor” (138). Die outeur gebruik die term “terroriste” sonder om hierdie woord tussen aanhalingstekens te plaas of om van “vryheidsvegters” te praat omdat sy hulle misdadige terreurdade eerstehands ervaar het. “Elke dag hoor ons van aanvalle op weerlose mense, en ons het baie min ammunisie, met die gevolg dat ons almal snags op Monguavolo in die groot huis [van haar skoonvader] gaan slaap … Ons moes ook saans nadat almal gebad het al ons klere aantrek, die kleintjies bad en warm aantrek, skoentjies en alles, sou ons die huis moes ontruim … Dit het ‘n paar maande so aangegaan totdat Portugal die onluste onderdruk het en ‘n groot troepemag in Angola gevestig het sodat die lewe weer normaal kon aangaan” (140).

In die 21ste eeu word blankes en net die blankes, bv in Amerika en Suid-Afrika, steeds verwyt oor slawerny, rassesegregasie en apartheid. Swartes word egter nie van terrorisme beskuldig nie, altans nie in die hoofstroom-inligtingsmedia nie. Gewelddadigheid, insluitende terrorisme, was egter kenmerkend van al die “bevrydingsbewegings” in Suider-Afrika. ‘n Vlieg is ‘n vlieg al vlieg hy nie. ‘n Dief bly ‘n dief al steel hy nie meer nie. ‘n Moordenaar bly ‘n moordenaar al moor hy nie meer nie. Insgelyks behoort ‘n terroris as ‘n terroris bekend te staan al het hy opgehou om terreurdade te pleeg.

Toe die Duitse skool in Junie 1967 sluit, het die outeur, haar man en vier kinders Suidwes-Afrika toe getrek sodat die kinders daar kon skoolgaan. Sy is trots daarop dat haar kinders “verbasend suiwer Afrikaans” praat (142). “Ons seuns kan met gemak Afrikaans, Duits en Portugees praat” (158). Haar man het in ‘n myn en daarna as werktuigkundige by die waterkanaal naby Ruacana gewerk en nog later by daardie dambouprojek.

Na die dood van die Portugese staatshoof, António Salazar (1889-1970), is hy deur Marcelo Caetano opgevolg. In 1974 is Caetano se bewind in ‘n staatsgreep omvêrgewerp. Portugese inwoners het toe begin om Angola op groot skaal te verlaat. Die politieke onrus het al hoe erger afmetings aangeneem. “Dit is alles so goed georganiseer dat toe die terroriste die eerste groot aanval geloods het, iewers in Maart, dit in een nag meer as ‘n duisend lewens gekos het. Mans, vrouens en kinders is in hul huise oorrompel, gemartel, vrouens verkrag, swanger vroue se mae oopgesny, in stukke gekap en in baddens gegooi. Toe die son die oggend opkom was dit oor ‘n bloedbad soos bitter min bekend is. Geen wonder Portugal het in die begin so genadeloos teruggeslaan nie, maar Salazar is dood en die nuwe leiers is te swak” (171-172). “Wie weet wat is oorlog, wat is bloeddorstige, dierlike wreedaardigheid? … Hoe wreed hartverskeurend is oorlog nie” (173).

In 1975 is onafhanklikheid aan Angola en talle ander Portugese kolonies toegestaan. Byna ‘n miljoen Portugese het die kolonies verlaat en toevlug in veral Portugal gesoek. Die politieke mag is aan die Angolese bevolking oorgedra. Maar daar was en is geen Angolese nasie nie, net so min as wat daar ‘n Suid-Afrikaanse nasie is. In albei lande is daar talle etniese groepe. In Angola was daar drie hoofterreurgroepe, die MPLA, FNLA en UNITA, wat elkeen die politieke mag wou inpalm. Die Angolese burgeroorlog het van 1975 tot 2002 geduur. Dit is moeilik om te besluit of die Portugese oorgawe aan swart mag in Angola meer skandalig was as dié in Suid-Afrika twee dekades later. Vir my is die skandvlek in ons geskiedenis groter omdat die verraad deur ‘n klein groepie Afrikaanssprekende blankes gepleeg is.

“In die jare wat volg [op die onafhanklikverklaring van Angola in 1975] sou alles wat oorgebly het ook nog vernietig word. Die verarmde bevolking van ‘n ryk land vlug in massas na die dorpe vir bietjie beskerming. In Portugal is die mense verbitterd en opstandig teen Caetano, veral die vlugtelinge wat alles verloor en nou as armblankes moet oorleef. Die landjie is te klein om so ‘n massa mense, ironies genoeg honderde swartes wat sogenaamd ook gevlug het, na behore te versorg … Ja, en so kom alles tot ‘n einde. Die baie jare van vrede en harde werk en vooruitgang vir almal in Angola eindig tragies. Nou moet ons almal maar weer van heel voor af begin en vir ons en ons kinders ‘n nuwe toekoms probeer skep. Maklik is dit nie; al die jare se opbou en bymekaarmaak is tot niet, byna soos na die Vryheidsoorlog [1899-1902] in Suid-Afrika” (185-186).

“UNITA beweeg oral [in die suide] en omdat dit ‘n Christenparty is, het die meeste Duitsers by hulle aangesluit, gehoop op beskerming. Duitsland onderneem om sy mense te help as hulle Angola wil verlaat. Hulle sal ‘n boot stuur om hulle te kom haal, maar nog steeds byt baie mense nog vas. Mens gee mos nie maklik ‘n leeftyd se werk en drome op nie. Net die gedagte daaraan laat jou voel of jy elke klip of groot boom op die plase kan omhels en vashou” (162-163). Baie van die blankes, bv Portugese, Afrikaners en Duitsers, het suid na Suidwes-Afrika gevlug. “UNITA het onderneem om hulle heeltyd van agter te beskerm … ‘n Leeftyd se werk word agtergelaat en net die allernodigste huishoudelike dingetjies word op voertuie en die trekkers gepak” (167). In Julie 1975 het hierdie konvooi uit 200 voertuie bestaan. Die funksionering van die Suid-Afrikaanse weermag “was onverbeterlik” (168). Helikopters het laag oor die konvooi gevlieg om die vlugtelinge te beskerm. Die outeur verwys na “ons wonderlike weermag” (170).

Ek was die hele 1975 in Amerika. Die televisiekanaal CBS se aandnuusbulletin was in daardie stadium die gewildste en invloedrykste in Amerika. Walter Cronkite (1916-2009) was twee dekades lank (1962-1981) nie net die aanbieder nie, maar grootliks ook in beheer van wat as nuus uitgesaai word en hoe dit ingeklee is. In swart geledere was hy die gewildste nuusaanbieder. Toe die Suid-Afrikaanse weermag na aanmoediging van die Amerikaanse regering suksesvol tot aan die buitewyke van die Angolese hoofstad, Luanda, gevorder het, het Cronkite gesê dat die Amerikaanse regering sy steun aan die verkeerde kant, dié van UNITA en Suid-Afrika, toegesê het. Cronkite het klaarblyklik voorkeur aan die MPLA gegee, wat deur kommunistiese lande soos Rusland en Kuba gesteun is. Kort hierna het die Amerikaanse regering sy steun aan Suid-Afrika se inval in Angola beëindig en het die Suid-Afrikaanse troepe na die suide teruggetrek. Dít terwyl die verslaggewers in Angola van CBS en ander televisiekanale berig het dat die Suid-Afrikaanse weermag die enigste beskaafde, stabiliserende faktor in die burgeroorlog was. Die terreurgroepe het teen mekaar geveg.

By Ruacana in Suidwes-Afrika aan die Angolese grens het Prinsloo in hierdie tyd onder meer tolkwerk (veral uit Portugees) gedoen en mediese dienste gelewer. “Ons kry ‘n huis en ander voordele wat baie help, want ons het skaars meubels; ons moet weer van voor af begin … So begin ons familietjie maar weer bou aan ‘n toekoms so anders as die lewe wat ons in Angola gehad het” (186). Oor haar jongste broer, Peet (1940-2015), skryf die outeur: “Al wat Peet-hulle besit ná Angola is op ‘n bakkie en sleepwa gelaai” (198). “By ons in Ruacana kom baie geestelik stukkende mense aan” (172). Die outeur se oudste seun, Gerhard (1955-1986), het as tolk vir ‘n Portugese vlugteling by Ruacana opgetree. Die Portugees vra: “Is jy nie Werner Voigt van Monguavolo se kleinseun nie?” (173). Gerhard sê: “Ja.” “Die man vra toe vir hom: ‘Weet jy dat jou oupa op die plaas vermoor is?’” (173). Die outeur verwys na haar skoonpa, Werner Voigt (1907-1975) as “Pappie”: “Ons Pappie wat nooit wou moed verloor nie, is op 25 Augustus 1975 op Monguavolo vermoor. Hy is deur terroriste [nie vryheidsvegters nie] in die huis op Monguavolo doodgeskiet. Mammie [haar skoonma, Carolina Storbeck (1914-1986)] is ook raakgeskiet, maar het daarin geslaag om vir die terroriste weg te kruip, en kon ontvlug” (174). Die Duitser Werner Voigt het in Angola Afrikaans geleer en het ‘n florerende koffie- en sisalplaas gehad. “Pappie is soos ‘n misdadiger doodgeskiet” (186).

“Daar kom nog ‘n hele paar keer groot trokke [vragmotors] deur, volgelaai met sakke koffie wat daar van ons kant van Ganda [naby Monguavolo in Angola] af kom. Vragte vol sakke met ons nommers op. Carl [die outeur se man] het die Portugese trokbestuurder daarmee gekonfronteer, dat dit Voigts van Monguavolo se koffie is, maar hulle het net gesê as hulle dit nie gevat het nie, sou ander dit gedoen het. Hulle het nogal heelwat geld gemaak met die tonne koffie in Suidweskant. Daar kom nou byna daagliks op Ruacana trokke deur met meubels en hope nuwe goed wat sommer net uit winkels opgelaai is. Die trokbestuurders verklaar dat dit hulle eiendom is en verkoop die goed dan spotgoedkoop in die binneland. Ons weet van beter. Oorlog verander die swakkes” (181). Het bevrydingsteoloë al gebeure soos hierdie geopper wanneer hulle hulle oor geregtigheid uitlaat?

Terwyl sy op Ruacana was, sien die outeur “‘n terrie agter ‘n bos inspring, en toe hy uitkom het hy gewone klere aan; ‘n ent van my af lê ‘n soldaatjie en toe hy omkyk na my, wys ek vir hom en beduie skiet … ‘n Goeie skoot. Bo-op die damwal hardloop nog een, hulle haal hom ook af” (175). Hierdie sinne laat baie lesers seker beter voel nadat hulle gelees het wat die blankes aangedoen is. Die vlugtelinge uit Angola is in ‘n gehawende toestand en vertel gruverhale van wreedheid en onreg. “Mens kan jou nie so iets voorstel nie, want die werklikheid is soveel wreder … as ‘n mens dit nie self beleef het nie moet jy liewer doodstil bly” (178). “Die afgryslikheid van die dinge wat hy [‘n “sammajoor” in die Suid-Afrikaanse weermag] my vertel het toe hulle Lubango [in Angola] ingery het, wil ek liewer nie hier herhaal nie. Hy het ook kort daarna ‘n algehele ineenstorting gehad en is teruggestuur Pretoria toe” (179).

“Die suide van Angola is feitlik leeg en soos ons weermag inbeweeg het, het hulle net verwoesting teëgekom. Diere is doodgeskiet. Gaingongo [een van die Prinsloo-plase] se pragtige klomp beeste wat Andries [1936-2008, die outeur se broer] probeer red het deur hulle aan te jaag Kunene [-rivier, die grens tussen Suidwes-Afrika en Angola] toe is halfpad gekaap, die wagters wat hulle probeer verset het is summier doodgeskiet … Op die ander Duitsers se plase daar bo in Ganda se wêreld is al die diere doodgeskiet, party sommer net die hakskeensenings afgekap. Die MPLA het saam met hulle kamerade, die Kubane, vir weke feesgevier tot niks meer oor was nie. Die plase vernietig, die huise met kosbaarhede vir geslagte lank, in die Voigts se geval meer as tweehonderd jaar in die familie, is alles vernietig. Die Kubane het alles wat hulle kon laai binne en buite die huise gevat. Selfs die elektriese bedrading binne-in huise is uitgeruk. Hulle het krane, slotte en kampdrade gesteel. Want dit is vir hulle geskenk deur die MPLA. Buit uit dank vir die Kubane se hulp in hulle stryd teen die blankes. Al die buit is per boot Kuba toe verskeep” (184-185).

Suidwes-Afrika is alreeds met die aankoms van die Voigts in 1967 nie vry van terrorisme nie. “Selfs binne-in Suidwes is die onheile net so bedrywig soos die terroriste in Angola, en hulle het van Angola af hierheen oorgrens geopereer, en in Suidwes is destyds ook gruwelike moorde gepleeg, veral op plaasboere” (187). Mettertyd beland die outeur en haar man in Pietersburg en daarna in Katima Mulilo in die Caprivi in Suidwes-Afrika, waar elke erf ‘n bomskuiling gehad het omdat hulle toe in ‘n oorlogsone gewoon het. “Soms is die gevegte so naby dat van die vensterruite kraak” (195). Dit was toe die Suid-Afrikaanse weermag hom nog teen Swapo se terrorisme verset het. Die Voigt-egpaar se kinders het toe hulle diensplig gedoen. Daarna woon hulle in die Tzaneen-omgewing. “Ons voel nog altyd soos ‘n klomp hanskuikens wat uit ‘n nes geskop is” (198).

Teen hierdie tyd steek terrorisme ook al hoe meer sy kop in Suid-Afrika uit. “Mense op plase is gereeld wreedaardig aangeval en vermoor. Suidwes se omstandighede het op ons drumpel gekom” (203-204). “Ons het gereeld lesings gehad en skietoefeninge gehou, ja, totdat so baie dinge tot niet gegaan het met die verandering in ons land” (204); dus, toe daar ook in Suid-Afrika aan die terroriste oorgegee is. Later woon die Voigt-egpaar op ‘n plaas tussen Duiwelskloof en Tzaneen. Die huis het ‘n veiligheidsheining om, maar twee swartes kry in 1996 toegang tot die huis en die outeur en haar huishulp word wreed aangerand en waardevolle besittings word gesteel. “Die sere het gesond geword, maar die letsels en die seer in my siel het lank, baie lank, gebly” (217).

Hulle trek toe na ‘n veiliger plek naby Soekmekaar terwyl die plaasaanvalle al hoe meer word. Na haar man se dood in 1998 woon die outeur in ‘n woonstel in Pietersburg, waar sy “die eerste keer die gedagte kry om hierdie boek te skryf” (224). Daarna is sy na ‘n aftree-oord in Tzaneen. In 2011 het sy in haar 80ste jaar Angola besoek. “Wat ‘n onvergeetlike ervaring, terug op die ou paaie. Alles is verskriklik verwaarloos, wat eers spogplase en pragtige huise was, is tot op die grond verwoes. Op Monguavolo, die spogplaas van weleer, is net bosse om murasies. Een van Pappie se werkers, nou ‘n ou man, wys vir ons waar die twee grafte teen die rantjie lê. Netjies opgemaak en skoon. Caconda, die ou swart man, sê vir ons: ‘Senhora, voor my patrâo (baas) weg is, het hy vir my gesê: “Caconda, as ek weg is, moet jy vir my en my amigo Tappe (Pappie se jare lange vriend) se rusplekke mooi oppas.” Hy sê: ‘Senhora, ek kom maak altyd skoon, en elke Kersfees en Paasfees kom sit ek blomme op my patrâo se graf.’ Die plek is skoongeskoffel, en niemand het geweet ons kom nie” (229-230).

“Ek wil dit graag net een keer weer gaan sien – hierdie ou plase in Angola – want ons almal se spore lê nog daar, toegewaai onder stof en grond, oorgroei met struik en bos, maar dis daar, die jare kan dit nie uitwis nie” (230). Sy besoek “die ou familieplaas, Gaingongo. Daar waar baie jare se Prinsloo-spore lê, eerste babaspoortjies tot ou spore, daar waar ook ons familiegrafte lê … Op my ouers en sussie (Maria, 1930-1949) se grafte tel ek ‘n paar mooi klippies op wat later op my kleinboet Peet se kis tot rus sou kom – iets van sy geliefdes van ‘n ver land naby hom. Toe ons terug is by die huis, vertel ek hom alles, en met die foto’s in ons hande kan ons stil saam huil. ‘n Laaste afskeid … Peet Prinsloo is op 30 Augustus 2015 op Tzaneen oorlede … Dis nog net ek wat oor is van ons Prinsloos” (230-231), behalwe drie van haar vier kinders wat in Angola gebore is.

Op die agterkant van die boek staan dat die outeur nou in Okahandja, Namibië, woon. Dit is seker die naaste wat sy kon kom aan ‘n omgewing waarin herinneringe aan die Boerepioniers van Angola gestimuleer word. Angola (1975), Rhodesië (1980), Suidwes-Afrika (1990) en Suid-Afrika (1994) het agtereenvolgend ten prooi van terroriste geval. In Angola en Zimbabwe is die blankes se plase sonder vergoeding onteiën. In Suid-Afrika en Namibië word daar fluks gevorder om dieselfde te doen. Die blankes maai al hoe minder, of glad nie, waar hulle gesaai het. Die swartes maai al hoe meer waar hulle nie gesaai het nie. Só lyk nie-rassige geregtigheid in Afrika.

Die eerste sin in die inleiding tot FW de Klerk se outobiografie lui: “The new South Africa was born on 10 May 1994, the day that Nelson Mandela was inaugurated as president of South Africa” (The last trek – A new beginning, London: Macmillan, 1998, p xv). De Klerk noem dat Fidel Castro, die Kubaanse staatshoof (1976-2008), hierdie geleentheid in Pretoria bygewoon het (xvii). Dit toon hoe ver Suid-Afrika “gevorder” het. Jubelend het ons deel van die probleem geword.

 

Deur: Leon Lemmer/praag.co.za


Enjoyed this post? Share it!