Die Polisie is besig om winde te sluk oor Grace, hoekom is ons Polisie so traag.

Weersprekende uitlatings van die polisie maak dat die Grace Mugabe sage soos ‘n televisie sepie klink.

Eers word verklaar dat sy nie gearresteer is as gevolg van haar “status”, maar kort daarna word ‘n “rooi waarskuwing” uitgestuur na alle grensposte om te voorkom dat sy nie die land verlaat nie.

Die kabinet swyg ook in alle amptelike tale en sê bloot dat hulle nie die saak bespreek nie omdat hulle nie oor individue praat nie, maar slegs oor beginsels.

Die laaste nuus is dat die polisie skynbaar die ondersoek in die saak opgeskort het totdat Grace Mugabe se aansoek om diplomatieke immuniteit afgehandel is. Aan die ander kant meen regskenners dat diplomatieke immuniteit in elk geval nie help in ‘n misdaad waar iemand seergekry het nie.

Die burgerregte organisasie Afriforum, wat feitlik uitsluitlik deur Afrikaners befonds word, het intussen aangebied dat hul die kleurlingvrou sal help wat deur Mugabe aangerand is .

VF Plus se leier, dr. Pieter Groenewald, het intussen gewaarsku dat die Grace Mugabe-voorval nie ʼn tweede Omar al-Basjir geval moet word waar sy toegelaat word om die land te verlaat ten spyte van strafregtelike klagtes teen haar nie.

Volgens dr. Groenewald het die waarnemende polisiekommissaris, lt.genl. L.J.Mothiba, by die polisie se parlementere portefeuljekomitee op ʼn vraag van hom gesê dat Mugabe steeds in Suid-Afrika is en dat haar regsverteenwoordigers “onderneem het” dat sy haarself sal oorgee.

“Ek wou die versekering by die generaal hê dat sy nie die land sal verlaat nie. Dit is maklik uitvoerbaar deur die grensposte en lughawens opdrag te gee dat sy nie die land mag verlaat nie.

“Genl. Mothiba het onderneem om dit te doen en daarom verwelkom ek die aankondiging van die minister van polisie, Fikile Mbalula, dat alle grensposte en lughawens nou wel op die hoogste vlak van gereedheid geplaas is om seker te maak sy verlaat nie die land nie.

“Ek is wel bekommerd daaroor dat sy die land nie noodwendig deur die amptelike grensposte of lughawens sal verlaat nie, maat dit moontlik is dat sy in ʼn private vliegtuig of selfs van Waterkloof toegelaat kan word om land te verlaat,” sê dr. Groenewald.


Enjoyed this post? Share it!