Die probleem is die vet tjeks van Direkteure

‘Staak daardie vet tjeks’
 Die Instituut van Direkteure van Suider-Afrika het sy teenkanting uitgespreek teen die vet tjeks wat uitvoerende beamptes ontvang.

Maatskappye lê nog te veel klem op korttermynprestasie en aandeelpryse en te min op langtermynwaarde wanneer direksies se vergoeding vasgestel word, sê die instituut in sy beleidsverslag “Value creation and executive pay”.

Dié verslag, wat Dinsdag bekend gemaak is, stel riglyne voor oor hoe vergoeding gekoppel kan word aan die waarde wat direkteure toevoeg tot die maatskappy, sy aandeelhouers en die samelewing.

 Dit volg op toenemende druk en kritiek van aandeelhouers en ander belanghebbendes soos die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) wat kla dat sekere direkteure en uitvoerende beamptes obsene salarisse verdien, selfs wanneer hulle maatskappye oor die afgrond stuur.

Die OBK, wat onder meer die staat se pensioenfondsbestuurder is en aandele in byna al die JSE-genoteerde maatskappye besit, het in sy jongste kwartaalverslag gesê hy het by ’n derde van aandeelhouersvergaderings teen die vergoedings­pakkette gestem.

Hy het onder meer kapsie gemaak teen Tito Mboweni, oudpresident van die Reserwebank, se “buitensporige” salaristjek van R1,58 miljoen (vergeleke met R506 667 die vorige jaar) as voorsitter van Accelerate Property Fund.

Van Julie tot September 2015 het die OBK ook teen ander maatskappye soos Pick n Pay en Telkom se vergoedingsbeleid gestem.

Die instituut sê uitvoerende hoofde behoort nie immuun teen aandeelhouers se pyn te wees nie. “Wanneer ’n maatskappy ’n groot verlies ly, moet almal die pyn voel.”

’n Skreiende voorbeeld wat die instituut noem, was toe die uitvoerende hoof van BP ’n bonus van $19,6 miljoen (20% meer as die vorige jaar) vir 2015 gekry het, ondanks die maatskappy se verlies van $5,2 miljard vir die jaar en die feit dat 60% van sy aandeelhouers teen die bonus gestem het.

WANNEER ’N MAATSKAPPY ’N GROOT VERLIES LY, MOET ALMAL DIE PYN VOEL.

Die instituut sê maatskappye se vergoedingskomitees moet verstaan wat waardeskepping en die drywers van werkskepping is voordat hulle op ’n vergoedingsbeleid besluit.

Daar word te veel staatgemaak op ’n korttermynaanwyser soos totale opbrengs op belegging, wat die totale opbrengs is wat beleggers oor ’n sekere tydperk uit dividende en die styging in die aandeelprys kry.

Dr. Mark Bussin, uitvoerende direkteur van die South African Reward Association, sê dit is ’n wêreldwye probleem dat maatskappye fokus op wat hulle bereik, eerder as hoe hulle dit bereik.

“Die fokus behoort na volhoubaarheid te skuif,” sê Bussin.

Hy glo die instituut se riglyne sal maatskappye help om waardes en drywers te identifiseer wat tot die aanvaarding van volhoubare praktyke sal lei.

Dr. Morné Mostert, direkteur van die Instituut vir Toekoms­navorsing by die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB), sê maatskappye se teikens word dikwels geformuleer met weinig begrip van belanghebbendes se behoeftes.

Hy sê finansiële teikens word dikwels beloon met min begrip van die prosesse wat daartoe aanleiding gee en die breër sistemiese impak, soos die impak op verbruikers, werknemers en hul ­families, of die omgewing.

“Korttermyndenke is ’n euwel van ons tyd,” sê Mostert.

Dr. Daniel Malan, direkteur van die Sentrum vir Korporatiewe Bestuurstoesig in Afrika by die USB, sê hoewel daar ’n groter verband tussen waardeskepping en vergoeding moet wees, help dit nie om te voorskriftelik te wees nie.

“Dit sal Suid-Afrika se beeld as ’n onvriendelike sakebestemming verder versleg, al is daar ’n oënskynlike behoefte aan groter gelykheid.”

Bron: Rapport


 

Enjoyed this post? Share it!