Die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) verdien nou ook ’n ekstra inkomste uit die weermag se flirtasie met Kuba

’n Gehuurde SAL-Airbus A340 het Donderdagoggend in Havana, Kuba, geland met sowat 340 soldate van die Suid-Afrikaanse weermag aan boord. Almal van hulle studeer tans in dié land in vakrigtings wat wissel van medies, vliegopleiding en ingenieurswese tot vakleerlingvaardighede.

Die SAL-vliegtuig (vlug SA2951) is teen ’n koste van R14 miljoen deur die departement van verdediging by die SAL gehuur, het ’n generaal op voorwaarde van anonimiteit aan Rapport bevestig.
Dieselfde vliegtuig sal met die terugvlug sowat 250 Kubane, wat ingevolge ’n uitruilskema tussen die twee lande se weermagte in die onderskeie lande studeer en opleiding verskaf, na Suid-Afrika terugbring.

Met dié vlug het die SAL stilweg ook geskiedenis gemaak omdat dit, sover bekend, die eerste keer is dat een van dié lugdiens se A340’s in Kuba land.

Die vliegtuig het Woensdagaand volgens Flightradar24 na Accra in Ghana gevlieg, van waar dit net ná middernag Kuba toe vertrek het. Dit het om 07:20 Donderdagoggend in Havana geland en is teen gisteraand weer terug in Suid-Afrika verwag.

Volgens bronne in die SAL is die bemanning vir die vlug vooraf gemaan om nié besonderhede oor die vlug uit te lap nie. Tog het die geskiedkundige vlug nie ongesiens verbygegaan nie en het die tonge behoorlik daaroor geklap in die kletskamers van webblaaie vir lugvaartentoesiaste.

Brig.genl. Mafi Mgobozi, weermagwoordvoerder, het bevestig die uitgawes is deur die tesourie gemagtig. Hy het ook bevestig dat dit vir die vervoer van die twee lande se studente was, tesame met ’n groep rekrute uit Suid-Afrika wat hul offisierskursus in Kuba gaan doen.

Die vlug het gekom nadat 30 van die Kubaanse motorwerktuigkundiges wat die weermag se stukkende voertuie herstel, onlangs vir hul jaarlikse verlof kommersieel Kuba toe gevlieg het. Dié vlugte het R3,2 miljoen gekos. Die weermag moes noodgedwonge ’n Hercules C-130-vragvliegtuig agterna stuur om al dié Kubane se aankope en geskenke vir hulle saam te neem Kuba toe.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, het die afgelope week op skriftelike vrae in die parlement deur Kobus Marais van die DA redes vir die vragvliegtuig verskaf. Die koste vir dié vlug was R5,3 miljoen, lui haar antwoord.

Volgens haar het die lugmag die vlug as deel van sy magvoorbereidingsopleiding onderneem. Die C-130 is ingespan om die Suid-Afrikaanse studente wat in Kuba afgestudeer het se bagasie na Suid-Afrika terug te bring.

Volgens Mapisa-Nqakula het dit finansiële sin gehad om die vragvliegtuig optimaal albei kante toe vir vrag te gebruik, terwyl die lugmagbemanning ook operasionele blootstelling gekry het.
Dié vlugte bring die totale koste vir dié studente se vervoer dié jaar op meer as R22,5 miljoen te staan. Die koste van die Kubaanse program vir die huidige finansiële jaar beloop R95,5 miljoen.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!