Die Toekoms van SA – Lyk dit soos Coligny? Net die tyd sal leer.

Kom ons begin by die begin. Die datum is 20 April en ’n jong swart seun lê op ’n verlate pad in die Hoëveldse son. Mielies marsjeer in alle rigtings oor die horison. In die verte staan graansilo’s.

Tussen die seun wat in die stof by ons voete lê en sy ouers se plakkershut in die nabye plakkerskamp, is ’n enorme sonneblomland wat behoort aan Pieter Karsten, ’n toonaangewende boer en sakeman van die dorpie Coligny.

Die oes is tienduisende rande werd, maar is besig om stadig te verdwyn. Die kinders in die plakkerskamp is honger en dit is verspot maklik vir hulle om oor die heining te glip, ’n paar sonneblomsade bymekaar te maak en oor ’n vuur te rooster.

DIE ONSEKERHEDE HET ’N VAKUUM GESKEP, WAT GOU GEVUL IS DEUR ’N PAAR UITERS ONTVLAMBARE IDEES.

Karsten het twee werknemers opdrag gegee om die diefstal te probeer keer. Phillip Schutte (34) en Pieter Doorewaard (26) word deur hul ondersteuners beskryf as ordentlike jong mans uit christelike huise, verantwoordelik en goed gemanierd. Die laaste paar maande het hulle verskeie kinders gevang wat hulself aan Karsten se oes help. In elke geval het hulle die oortreders agterop ’n bakkie gelaai en by die polisie gaan aflaai. Dié het dan hul ouers gebel en hulle met ’n waarskuwing vrygelaat. Almal stem saam al die vorige burgerlike inhegtenisnemings het nooit met enige geweld gepaard gegaan nie.

Maar 20 April was anders. Daar staan Schutte en Doorewaard se bakkie en hier in die stofpad lê ’n seun met ’n gebreekte nek. Hul weergawe: Hulle het twee tieners wat sonneblomsaad steel, gevang. Een het weggehardloop. Hulle het die tweede agterop hul bakkie gelaai en was op pad na die polisiekantoor toe hy probeer wegkom het. Hy het van die voertuig afgespring toe dit stadiger gery het voor ’n draai in die pad en sy nek gebreek.

Daar is ook ’n ander weergawe, deur ’n tot dusver naamlose swart man, wat aan verslaggewers en die polisie gesê het dat Schutte en Doorewaard die swart seun tot ’n bloedige pulp geslaan het en hom met die dood gedreig het as hy nie sy mond hou oor wat hy gesien het nie.

Hierdie teenstrydige weergawes kon gou opgeklaar gewees het deur vinnige en doeltreffende speurwerk. Daar was ander getuies, van wie die beweerde sonneblomdief se maat die belangrikste is. As die polisie hom betyds gevind het, kon sy getuienis deurslaggewend gewees het.

Wat ook op ’n kritieke tydstip ontbreek het, is die resultate van ’n nadoodse ondersoek wat die ware oorsaak van die dood sou bepaal. Die beserings wat deur ’n aanranding toegedien is, verskil hemelsbreed van dié wat veroorsaak is deur ’n hoëspoedvalslag op ’n ruwe grondpad. Maar die polisie beweeg teen ’n slakkepas (en soms glad nie). Ná tien dae se speurwerk kon die polisie nie eens die seun se identiteit vasstel nie, hoewel hy binne sig ­gewoon het van die plek waar hy gesterf het.

Hierdie onsekerhede het ’n vakuum geskep – ’n vakuum wat gou gevul is deur ’n paar ­uiters ontvlambare idees.

Coligny is ’n plek waar grimmige gevolgtrekkings vir baie mense maklik kom. Swart mense sê Afrikaners behandel hulle steeds so sleg soos in die apartheidstyd en sê hulle is steeds bang vir “die Boere”. En van hier is dit maar net ’n klein treetjie om tot die gevolgtrekking te kom dat die dood in die sonneblomland ’n rassistiese moord moet wees.

Rondom sononder op Sondag 23 April het buitelandse handelaars in Coligny se naburige township besoek ontvang van ’n geheimsinnige man wat hulle net as “Tebele” geken het. Tebele het gewaarsku dat daar ’n opstand aan die kom is, maar dat dit niks met hulle te doen het nie en dat hulle veilig sou wees as hulle hul winkels sluit en ’n lae profiel handhaaf. Tebele het ook blykbaar die volgende oggend skole in die township besoek en skoolhoofde opdrag gegee om leerlinge die volgende dag toe te laat om aan te sluit by ’n protesoptog teen Dooreward en Schutte, die wit gemeenskap wat hulle vermoedelik beskerm en die polisie wat hulle tot dusver nog nie in hegtenis geneem het nie.

’n Paar minute later het die NG dominee, M.H. Pieters, ’n oproep gekry van ’n polisieman om hom te waarsku dat ’n groot skare op pad is na die dorp en dat die polisie magteloos is om enigiets te doen omdat daar net vyf polisiemanne aan diens was en dat geen versterkings beskikbaar is nie as gevolg van gewelddadige diensleweringsproteste in die nabye Blydeville en Lichtenburg.

SWART MENSE SÊ AFRIKANERS BEHANDEL HULLE STEEDS SO SLEG SOOS IN DIE APARTHEIDSTYD EN SÊ HULLE IS STEEDS BANG VIR “DIE BOERE”.

Gemeet aan selfoonvideo’s wat deur angstige dorpenaars geneem is, was Tebele se protesoptog aanvanklik redelik ordelik. ’n Skare van meestal skoolkinders het vryelik deur die dorp se sakekern geloop of gehardloop terwyl hulle hier en daar ’n venster gebreek het en die deure van die dorp se enigste hotel, wat deur Karsten besit word, afgeskop het. Toe hulle aan die ander kant van die dorp kom, is hulle voorgekeer deur ’n handvol wit boere en het hulle omgedraai en net gestop om Karsten se kroeg in die verbygaan te plunder.

Daarna was dit stil vir ’n rukkie, maar toe het die polisie die boere gevra om pad te gee op grond van die feit dat hul teenwoordigheid “uitdagend” was. Volgens ds. Pieters het die boere gehoor gegee en onttrek om Najaarsrus, die plaaslike ouetehuis, te beskerm. Op hierdie punt het betogers besef die dorp is onbeskermd en teruggekeer, hul geledere aangevul deur honderde volwassenes.

Daarna het 24 uur van byna-anargie gevolg. Alle drankwinkels in die dorp is geplunder en leeggedra, so ook die meeste sakeondernemings. Drie huise is aan die brand gesteek en ses vreesbevange wit meisies, vasgekeer in die geplunderde hotel, moes gered word deur wat hulle die “Boeremag” genoem het, maar wat later geblyk het die plaaslike plaaswag te wees.

EK WAS NIE BANG NIE. EK HET NOOIT GEDINK DAT ENIGIEMAND MY SOU SEERMAAK NIE. – Diana Swart

Soos wat die nuus op sosiale media versprei het, het Afrikaners van honderde kilometers rondom Coligny gemobiliseer en opgeruk na die dorp. Party was gewapen en ordentlike inwoners het nie gehou van wat hulle sien nie. Soos een dit gestel het: “Die laaste ding wat ons nodig gehad het, was trigger-happy regses wat mense in die strate skiet.” Daarom het plaaslike Afrikaners begin om padblokkades op te rig en die vreemdelinge hoflik gevra om huis toe te gaan, wat nogal dapper was, gegewe dat die nag op hande was en daar nog geen teken van polisieversterkings was nie. Baie het gedink dat God hulle sou beskerm. Sommige het hulle geloof in die inherente goedheid van hul swart bure geplaas.

Een van hulle was Diana Swart, ’n lewendige vrou wat voorheen die dorp se veelrassige o.21-rugbyspan bestuur het en klere gemaak het vir die swart meisies sodat hulle kan mooi lyk op die Hoërskool Coligny se veelrassige matriekafskeid. Ná donker het sy buite haar huis onder ’n boom gesit en kyk na skaduagtige figure wat gebuite TV’s en bierkratte na die township dra. “My seuns wou my daar wegkry,” sê sy, “maar ek was nie bang nie. Ek het nooit gedink dat enigiemand my sou seermaak nie.”

Sy was verkeerd. Toe die son opkom, was haar huis omring deur ’n menigte wat haar met messe gedreig en toe haar huis afgebrand het, haar geliefde honde binne-in vasgekeer.

Teen daardie tyd was al die buitelandse handelaars se winkels in die townships reeds uitgebrand en geplunder. Daar was 53 van hulle en hulle het nie regtig die hoofopskrifte gehaal nie, ondanks die feit dat hulle verreweg die grootste slagoffers van fase een van die slag van Coligny was.

ONS WEET ONS IS NIE REGTIG WELKOM HIER NIE. DAAROM PROBEER ONS HARD OM VRIENDE TE MAAK. ONS PROBEER OM DIE TAAL TE PRAAT.

Ek het sommige van hulle in ’n tydelike vlugtelingkamp buite die dorp se moskee gevind. Daar was ’n hele klomp Bangladesji’s, met niks ander besittings as die klere waarin hulle opgestaan het nie en handevol as van wat eens hul enigste spaargeld was.

’n Tragiese refrein het deur al hul stories geloop en dit het so gegaan: “Ons weet ons is nie regtig welkom hier nie. Daarom probeer ons hard om vriende te maak. Ons probeer om die taal te praat. Ons gee geskenke aan polisiemanne sodat hulle ons sal beskerm. Ons help sukkelende mense met krediet, maar toe die plundering begin het, het mense wat ons goed ken, saam met hul kinders gekom om ons voorraad weg te dra.” Een het bygevoeg: “ ’n Swart persoon het geen hart nie.” Toe het hy my sy naam en telefoonnommer gegee en gesê: “Ek gee nie om as jy my identifiseer nie, ek het niks meer om te verloor nie.”

Teen laat Vrydag het my ondersoek ’n doodloopstraat bereik en het ek besluit om huis toe te gaan en terug te kom sodra ­dinge kalmer was.

Nou moet ek dit duidelik stel dat ek na Coligny gestuur is om ’n diepteartikel te skryf oor die geweld en die onderliggende oorsake daarvan. Ná drie dae was ek niks wyser nie, hoewel dit duidelik was die beweerde sonneblomdief het op ’n gerieflike oomblik vir die plaaslike ANC gekom wat gesteier het onder gewelddadige betogings oor die groter Ditsobotla-munisipaliteit heen. In dorpe soos Blydeville en Lichtenburg was die brandende kwessies korrupsie, onbevoegdheid, paaie vol slaggate, gebreekte rioolplase en gebrekkige watervoorsiening. Die ANC-beheerde munisipaliteit is hopeloos bankrot, met skuld van R323 miljoen, vier opeenvolgende negatiewe verslae van die ouditeur-generaal en ’n dorpsbestuurder wat deur ernstige bedrogaantygings in die gesig gestaar word.

WIT MENSE GAAN VOORT OM DIE GROND EN DIE BANKE TE BEHEER – Supra Mahumapelo

Swart mense in Coligny het soortgelyke klagtes, en was in ’n oproerige bui lank voordat die plundering begin het. Teen hierdie agtergrond het ’n naamlose lyk in die staatslykhuis homself as ’n nuttige afleiding aangebied. Dit wil sê ’n kans vir plaaslike ANC-leiers om die onderwerp te verander, die fokus van woede na wit mense te verskuif en te demonstreer dat hul knaters steeds so groot, rooi en militant soos die EFF s’n was.

Maar dit was net ’n teorie in daardie stadium. Ek het nie met enige plaaslike politici gepraat nie. Ek het nie geweet wat hulle dink nie totdat ek die volgende oggend wakker geword het, net om te hoor dat ’n nuwe drama in Coligny aan die ontvou was. Teen daardie tyd is die seun van die sonneblomveld geïdentifiseer as die 16-jarige Matlhomola Mosweu, en nou kon sy begrafnis plaasvind. Die plek was ’n reusetent buite Coligny se plakkerskamp en die hoofspreker was Supra Mahumapelo, ANC-premier van Noordwes en ’n belangrike bondgenoot van pres. Jacob Zuma.

Volgens die twiets van die News24-verslaggewer Jeanette Chabalala, het Mahu­mapelo begin deur te sê dat daar geen verwarring moet wees onder wie se hande Mosweu gesterf het nie. Dit was vreemd. Vrydagmiddag het die landdros gedurende die borgtogverhoor aangedui dat aspekte van die getuienis teen die beskuldigdes verwarrend was.

Maar Mahumapelo was immuun teen twyfel. “As hulle ’n wit kind gevang het, dink ek nie hulle sou dit gedoen het nie,” het hy voortgebulder. “Ek het ’n probleem met wit meerderwaardigheid in hierdie land. Wit mense gaan voort om die grond en die banke te beheer.”

AI, HIERDIE LAND. WAAR IS ONS GLORIE HEEN?

Nog ’n spreker was Packet Seaketso, provinsiale sekretaris van Sanco, nog ’n sleutelspeler in Zuma se groot alliansie. Sy rol was om die gemeenskap in kennis te stel van planne vir die volgende Maandag, wanneer landdros Magoala Foso uitspraak sou lewer in Schutte en Doorewaard se borgtogaansoek. Seaketso het nie heeltemal gevra dat die dorp afgebrand moes word nie, maar het aangedui in watter rigting dinge besig was om te beweeg. “Ons gaan by die ou munisipale gebou ontmoet,” het hy gesê. “Ons is besig om die paaie te sluit in ’n poging om borgtog teen te staan.”

Hier moet ons vir ’n oomblik stilstaan om die beduidenis van wat jy nou net gelees het, te oorweeg.

Toe die probleme in Coligny begin het, is ons vertel dat dit ’n “spontane” uitdrukking van die mense se regmatige woede was. Miskien wel, maar wat ons by die begrafnis gesien het, was iets heeltemal anders. Mahumapelo en sy kamerade is vooraanstaande lede van Zuma se faksie. Hulle kon die geweld veroordeel het. Hulle kon die 53 Bangladesji’s, Somaliërs en Ethiopiërs wat hul lewensmiddele verloor het, om verskoning gevra het. Hulle kon ’n oproep om kalmte gedoen het en hul volgelinge aangeraai het om te wag vir die feite.

Pleks daarvan het hulle verkies om die rassepolarisasie verder aan te blaas en tesame ’n tweede ronde protes te onderskryf in ’n dorp wat reeds deur oproer lamgelê is. Ek twyfel of dit ’n emosionele oorreaksie was. Vir my lyk dit soos ’n koue, logiese deel van die Zuma-administrasie se oorlewingstrategie, wat berus op die brandmerking van wit mense as die sondebokke, ’n strategie waarvan Robert Mugabe ’n baanbreker was, wat in 2010 deur Julius Malema onderskryf is, en onlangs aangepas is in Zuma se planne vir ­“radikale ekonomiese transformasie”.

Die res van die storie ken jy. Teen Maandag 10:30 het landdros Foso aangekondig dat die wet en sy lees van die omstandighede van hom vereis om die beskuldigdes op borgtog vry te laat. Binne enkele minute is ’n plaas in wit besit aan die buitewyke van die dorp aan die brand gesteek. Teen die tyd dat die polisie aangekom het, was daar ’n tweede brand elders, en toe ’n derde en ’n vierde, hierdie keer die huis van ’n Indiër-sakeman. Ontsenu deur die verlies van sy huis, het een boer sy vuurwapen uitgepluk en ’n fotograaf aangeval oor dié sy plaas onwettig betree het. Die polisie was gewikkel in skermutselings met klipgooiende jeug en het rubberkoeëls afgevuur en skokgranate laat ontplof. Teen sononder is ’n mate van orde herstel, maar die situasie was steeds uiters gespanne en rasseminderhede het die nag met vrees binnegegaan.

WINKELS IS AFGELEEF, HUISE VERVALLE, DIE PAAIE VOL SLAGGATE EN RIOOLVUIL.

“Dis klaarpraat met Suid-Afrika,” het ’n ou Indiër-man aan my gesê. “Binnekort sal dit oral versprei.”

Ai, hierdie land. Waar is ons glorie heen? Coligny was reeds ’n hartseer en depressiewe plek voordat hierdie probleme begin het, en nou is dit erger. Afgesien van Pieter Karsten en ’n paar ander, is dit ’n dorp van arm wit mense en afgetrede spoorwegwerkers wat sukkel om op staatsubsidies en liefdadigheid te oorleef. Winkels is afgeleef, huise vervalle, die paaie vol slaggate en rioolvuil.

Die dorp se rasseminderhede is bang en geïsoleer, en die posisie van swart mense is selfs desperater. Presiese syfers is nie beskikbaar nie, maar township-inwoners sê werkloosheid is sowat 80%. Meer as die helfte van die bevolking wag steeds op spoeltoilette en byna elke familie is in ’n mate van sosiale toelaes afhanklik vir oorlewing.

Dit maak van Coligny vrugbare grond vir politici wat probeer om antiwitwoede op te sweep – óf as instrument om mag te verkry óf, in die geval van Zuma, om daaraan vas te klou deur ’n vyand op te stel wie se nederlaag die massas sal inlei in ’n utopie van algehele ekonomiese vryheid, waar almal so ’n lekker lewe “soos die wit mense” het.

Dit is ’n wrede en tragiese klugspel. Die groot geld is lank gelede landuit. Wit mense is ’n klein en krimpende minderheid, goed op pad na absolute irrelevansie. In Coligny en die omliggende dorpe verdien slegs 1% van die bevolking meer as R600 000 per jaar, terwyl 87% onder die belastingdrempel val. Syfers soos hierdie dui daarop dat, as jy alle geld wat aan wit mense behoort, onder die armes herverdeel, jy skaars ’n duik in swart armoede sou maak. En die prys wat vir daardie herverdeling betaal moet word, sal vreesaanjaend wees: ’n totale verlies aan beleggersvertroue, kapitaaluitvloei, reusagtige werkverliese, die ineenstorting van die belastingbasis, die einde van maatskaplike toelaes, en uiteindelik ’n lot veel erger as Zimbabwe s’n, want waarheen sal ons vlugtelinge gaan?

Bron:  Netwerk24

Skrywer:  Rian Malan


 

Enjoyed this post? Share it!