Die vermoorde Hendrik Knoetze (73) het altyd vir verdagte koek gekoop

Die vermoorde Hendrik Knoetze (73) van Pellissier, Bloemfontein, het sy vermeende moordenaar geken sedert hy ’n tiener was en het elke jaar vir die jong man ’n koek op sy verjaardag gekoop.

Hy het hom ook ekstra geld en ander “goedjies” gegee en tot sy skoolgeld bygedra.

Maandag het Kgotso Patrick Gigi (23), wat sedert 12-jarige ouderdom vir Knoetze gewerk het, in verband met die moord op sy voormalige werkgewer in die hof verskyn.

 Gigi, van Fase 5, Mangaung, het vlugtig op aanklagte van moord en huisroof in die stad se landdroshof verskyn nadat hy Vrydag in hegtenis geneem is.

Sy regsverteenwoordiger, S.O. Ngombane van Regshulp­ SA, het voor landdros Loyiso Mzana gesê Gigi het ’n hangende saak van verkragting in die streekhof en is vroeër op borgtog van R1 000 in dié saak vrygelaat.

Mzana het sy borgtogaansoek tot volgende maand uitgestel.

Koos Ralepoma, Gigi se stiefpa, het Maandag aan Netwerk24 gesê hy was geskok en teleurgesteld toe hy uitvind sy seun het na bewering sy voormalige werkgewer vermoor.

Volgens Ralepoma, wat ook vroeër vir Knoetze gewerk het, het sy jongste seun Vrydagaand ná die moord, meer as ’n week gelede, met bebloede klere by die huis aangekom.

HENDRIK WAS ’N BAIE GOEIE MENS. MY OUDSTE SEUN HET EERS VIR HOM GEWERK TOT HY HOM GEHELP HET OM ’N ANDER WERK TE KRY. TOE GAAN WERK KGOTSO VIR HOM.
Koos Ralepoma

Hy het eers gewag en self ondersoek ingestel oor wie se bloed dit is en het die polisie later gebel.

“Hendrik was ’n baie goeie mens. My oudste seun het eers vir hom gewerk tot hy (Knoetze) hom gehelp het om ’n ander werk te kry. Toe gaan werk Kgotso vir hom.

“Hendrik het bygedra tot sy skoolgeld en het altyd vir hom ’n koek gekoop op sy verjaardag. Hy het hom ook ekstra geld en ander goed gegee. Hy het ook my dogter gehelp,” sê Ralepoma.

Volgens Ralepoma het hy Knoetze altyd as ’n vaderfiguur beskou.

Gigi, wat glo aan dwelms verslaaf is en die skool vroeg verlaat het, het glo as ’n tuiner vir Knoetze gewerk en het sowat een keer ’n maand sy sypaadjie voor sy huis in Martatjiestraat, Pellissier, skoongemaak.

Hy het na bewering Knoetze se selfoon in sy besit gehad toe hy in hegtenis geneem is.

Titus Kopa kla aan.

Bron: Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!