Die voltooide sirkel van grondbesit

Die voltooide sirkel van grondbesit

druiweoes_Romeine_factsanddetailscom-275x275

Moet plaasgrond aan kleinboere toegedeel of deur groot, kapitalistiese boere benut word?
Dié brandende kwessie het meer as 2 000 jaar gelede in die Romeinse Republiek gewoed, net soos vandag in Suid-Afrika.

Op ’n dag so 2 140 jaar gelede was Tiberius Gracchus, ’n Romeinse politikus, van die hoofstad, Rome, deur die Italiaanse platteland onderweg. Langs die pad was die gewone gesig van die uitgestrekte landgoedere van kapitalistiese grondbaronne, afgewissel deur die bouvalle van huisies wat eens deur kleinboere bewoon was.

Skielik het die gedagte Tiberius getref dat die meeste van dié landbougrond in werklikheid aan die staat behoort. Die grond is voorheen in oorloë van die vyand afgeneem en uitgedeel aan burgers wat geveg het. Die grond was nie die ontvangers se eie eiendom nie, maar is in bruikleen aan hulle gegee. ’n Wet wat met die uitdeel van die grond gemaak is, het bepaal dat niemand meer as 500 iugera (sowat 125 hektaar) mag besit nie.

Oor die sowat 200 jaar wat daarna verloop het, is die grond geleidelik deur die bewoners as hul private eiendom beskou. Van die eiendom is dan ook verhandel, waardeur kleinboere die grond verlaat en groot grondbesitters tot stand gekom het. Tiberius het gedink aan die heersende ellende in Italië en gewonder of die staat dalk die grond kan terugkry en aan grondlose burgers kan uitdeel.

“Die wilde diere het holtes en skuilplekke waar hulle kan bly,” het hy by ’n latere geleentheid gesê, “maar die mense wat vir Italië geveg het, dool huisloos met vrou en kinders rond en het niks wat hulle hul eie kan noem nie, behalwe die lug en sonskyn.” Sy besorgdheid oor die haweloses kan teruggevoer word na sy kinderjare. Sy ma, Cornelia, het hom en sy jonger broer, Gaius, geleer om om te gee vir die armes en verdruktes.

Cornelia is as die Romeine se volksmoeder beskou. Sy was die dogter van Scipio Africanus, oorlogsheld en beroemde lid van ’n beroemde Romeinse familie. Kultuur, reinheid en ook pligsbesef teenoor die staat en medeburgers was as’t ware in haar vergestalt.

Tiberius was een van die volkstribune in die senaat, die hoogste owerheidsliggaam van die Romeine. Die tribune is deur die armste burgers verkies om hulle in die senaat te verteenwoordig en na hul belange om te sien. Die tribune kon ’n stokkie steek voor enige optrede of wet wat die armes kon benadeel.

Weens sy besorgdheid oor die haweloses het Tiberius dit bewerkstellig dat die senaat die ou, vergete wet wat grondbesit beperk, weer van krag maak. Baie grondeienaars moes dus van hul eiendom afstaan sodat dit aan die grondloses toegedeel kan word. Aanvanklik sou die benadeelde eienaars vir hul grondverlies vergoed word, maar dit is later laat vaar.

In die senaat was ’n gees vaardig van senatore wat wreder en heerssugtiger geword het, en rykes wat steeds groter rykdom nagejaag het. Die hernieude inwerkingstelling van die wet het talle senatore nie aangestaan nie. Aanvanklik het van die senatore ’n tribuun oorreed om die wet teen te staan. Enige tribuun kon ’n voorstel veto en keer dat dit verder gevoer word. Die minder bevoorregtes se geesdrif vir die wet het egter so hoog geloop dat Tiberius toegesien het dat die wederstrewige tribuun kragdadig uit die vergaderplek verwyder word.

Die volgende jaar het Tiberius egter sy hand oorspeel deur onwettig weer vir die tribunaat te staan. Vir die wetsgetroue Romeine was dit een te veel en ’n oproer het gevolg waarin Tiberius en van sy volgelinge met knuppels en stokke doodgeslaan is. ’n Mede-tribuun het die eerste hou teen Tiberius se kop ingekry. Tiberius se werk is egter voortgesit deur ’n kommissie wat deur hom aangestel is om die wet uit te voer.

Nege jaar ná Tiberius se dood is sy broer, Gaius, tot die tribunaat verkies. Hy het verskeie voordele vir die armes beding. Die senatore wou egter ook van hom ontslae raak en het iemand gekry wat aan die behoeftiges meer belowe het as wat Gaius vir hulle gedoen het. Hul plan het gewerk en Gaius het ongewild geword by die gepeupel. Die senaat het Gaius voëlvry verklaar en ’n beloning uitgeloof van goud gelykstaande aan die gewig van sy afgesnyde kop.

’n Eertydse vriend van Gaius het die beloning opgeëis. Dit het egter op die lappe gekom dat hy die vermoorde Gaius se kopholtes met lood gevul het om die kop swaarder te laat weeg. Hy het gevolglik die beloning verbeur. Kort daarna het die senaat die uitdeel van grond aan behoeftiges gestaak. Diegene wat reeds grond ontvang het, is toegelaat om dit te verkoop. Daarmee is die sirkel voltooi: Kleinboere het algaande hul grond van die hand gesit en ryk kapitaliste het weer grondbaronne geword.
Deur Sakkie Malherbe
7 Julie 2015 Landbou nuus

Enjoyed this post? Share it!