Dit gons oor gesteelde voertuie in munisipale stoor

Vrede in die Vrystaat is weer in omstredenheid gehul nadat ses splinternuwe gesteelde Range Rovers ter waarde van R9 miljoen in ’n munisipale stoor gevind is.

Volgens kapt. S’fiso Nyakane, woordvoerder van die Valke in die Vrystaat, word ’n saak van bedrog ondersoek.

Foto’s van die swart Range Rovers doen sedert Dinsdag die ronde op sosiale media met vrae oor waarom dié voertuie juis in ’n munisipale stoor is.

Na aanleiding van ’n brief met ’n briefhoof van die nasionale departement van landbou, wat ook wyd op sosiale media gedeel word, vra ene Patric Ngobeni namens die departement en die departement se landbou-ondersteunings- en ontwikkelingsprogram (FSD) die bestuurder van die Phumelela-munisipaliteit om toerusting in onder meer die munisipaliteit se store en werkwinkels te stoor.

“Dit (die vraag na stoorplek) is in pas met die departement se bemagtigingsprogram van voorheen benadeelde boere in plaaslike gemeenskappe,” lui die brief met ’n datumstempel van 5 Oktober 2017.

“Soos ons telefonies bespreek het, neem ons volle verantwoordelikheid vir al die toerusting of vee wat op jul perseel gestoor sal word. Ons vra stoorplek vir 14 dae.”

Ngobeni sê verder dat die departement so billike toegang tot landboutoerusting bevorder.

“Daarom vra ons dat al die munisipaliteite in die land hande sal vat en saam met die departement sal werk sodat toerusting soos voertuie, trekkers, werktuie en vee op hul persele gestoor kan word.”

Nyakane sê die vrou wat die voertuie onder die polisie se aandag gebring het, het op 30 Oktober ’n oproep van ene Ngobeni van die nasionale departement van landbou gekry.

“Hy het gesê dat hy ses Range Rovers vir die departement bestel het en dat dit by die Vrede-munisipaliteit afgelewer moet word,” sê hy.

Die voertuie is Maandag afgelewer.

“Die klaagster het die departement gebel om die aflewering te bevestig. Die departement het haar in kennis gestel dat dit ’n bedrieglike aankoop is.

“Die Netstar-opsporingstoestelle is geaktiveer en daar is vasgestel dat dit aan ’n Land Rover-handelaar in Durban behoort.”

Ngobeni se Pretoria-nommer is ook deel van die briefhoof.

Hy het Donderdag net ná 09:00 sy telefoon geantwoord en gesê dat hy nie kan praat nie en dat hy weer oor vyf minute gebel kan word.

Ná die vyf minute het hy nie geantwoord nie. Ná 10 minute het hy wel geantwoord en wou hy weet: “Wát van die brief?”

Hy het gemaak asof die lyn besig is om uit te sny en die telefoon doodgedruk.

Sy telefoon het die res van die dag na stempos gegaan. Die stemposboodskap het egter ’n ander nommer wat met 065 begin gegee as wat aanvanklik gebel is.

Ná ’n oproep na die departement van landbou se sleutelbord, is vasgestel dat niemand met die naam Patric Ngobeni daar werk nie.

Makenosi Maroo, woordvoerder van die nasionale landboudepartement, het by navraag gesê dat dit ’n bedrogspul is.

“As jy na die briefhoof kyk, sê dit net ‘landbou’ en ons is die departement van landbou, bosbou en visserye.

“Ons is besig om dit te ondersoek en sal binnekort ’n verklaring uitreik.”

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!