Dit is amptelik: Suid-Afrika staan nou met die hoogste werkloosheidsyfer in 13 jaar – wat ‘n skande!

Dit is amptelik: Suid-Afrika staan nou met die hoogste werkloosheidsyfer in 13 jaar en ekonome, soos Mike Schussler, sê dit gaan nie binne die volgende 18 maande na twee jaar verbeter nie, inteendeel, dit gaan eerder verder versleg.

En wat seg Jacob? In die Parlement sê hy gister: Julle is onnodig negatief, die land gaan nie agteruit nie. Hierdie is maar net bewys dat Radikale Ekonomiese Transformasie nodig is!

Zuma se toespraak is maar deur min mense aangehoor. Dis net die paar partye wat nog hoop om aan te karring met Zuma as staatshoof wat bly sit het. Die DA, EFF, Cope en UDM het so min respek vir sy presidensie oor, dat hulle nie opgedaag het om sy begrotingstoespraak te hoor nie.

Zuma het ook gereageer op die veelbesproke vraag van dr Pieter Groenewald van die VF+ oor wat witmense kan doen om hom tevrede te stel en deel van die Reënboognasie te wees. Sy antwoord was niks nuuts nie en ook niks wat ons nie geweet het nie: Witmense moet rykdom deel, witmense kan nie so baie besit en swartmense so min nie. As dr Groenewald se vraag sarkasties bedoel was, soos wat heelwat mense aanvoer, het die sarkasme by Zuma verby gegaan…te verwagte ook.

Sarkasme, ironie en skaamte is klaarblyklik nie konsepte wat in Zuma se begripsveld tuishoort nie. Hy het geen verwysing gemaak na die bykans 200 000 eposse wat uitgelek het en wat tans ondersoek word, waarin daar bewys is dat hy Suid-Afrika aan die Guptas verkoop het nie.

Ons het dus nog geen tree gevorder om van Zuma ontslae te raak nie…daar is net geen skaamte nie.

Skrywer: Daniel Lotter


Enjoyed this post? Share it!