Dit lyk ál beter vir Cyril om einde vanjaar tot ANC-leier verkies te word

Interne magsverskuiwings in provinsies, veral in KwaZulu-Natal (KZN) en die Vrystaat, het adj.pres. Cyril Ramaphosa se kanse aansienlik verbeter om einde vanjaar tot ANC-leier verkies te word.

Ace Magashule, premier van die Vrystaat en ANC-voorsitter in dié provinsie, was tot en met die ANC-beleidskonferensie die gunsteling om Gwede ­Mantashe op te volg as sekretaris-generaal van die party, maar Magashule is op die beleidskonferensie verlam en dit lyk nie meer of hy tot die amp – naas die president die invloedrykste in die ANC – verkies gaan word nie.

Magashule steun pres. Jacob Zuma en sy pogings om dr. Nkosazana Dlamini-Zuma tot sy opvolger te laat verkies.

Hy kry die laaste paar maande kwaai teenstand van Thabo Manyoni, ANC- ondervoorsitter in die Vrystaat.

Manyoni steun Ramaphosa. Hy het in Mei as LP bedank om al sy aandag aan provinsiale kwessies in die Vrystaat te gee. Dit het Magashule erg verswak.
Die Dlamini-Zuma-kamp het onlangs vir Mantashe genader om hom vir ’n derde termyn as sekretaris-generaal beskikbaar te stel. Twee koukuslede het aan Rapport gesê dit het groot ontsteltenis onder ANC-koukuslede in die parlement wat die Ramaphosa-groep steun, veroorsaak, want Mantashe word as ’n steunpilaar in die groep beskou. Dit kan egter ook ’n poging wees om ’n kompromis met die Ramaphosa-groep te probeer vind.

DIE ZUMA-FAKSIE HET DUIDELIK DIE ONDERSPIT GEDELF.

Mantashe wou nie bevestig of ontken dat hy genader is nie.

“Ek het lankal gesê ek is nie vir ’n derde termyn beskikbaar nie – eenvoudig omdat dit te veeleisend is.

“Daar is genoeg tyd om ’n comrade te kry wat kan aangaan wanneer ek ­ophou,” het hy gesê.

Die Ramaphosa-kamp het egter ook by die beleidskongres ’n hupstoot gekry van die Mpumalanga-premier, David Mabuza, wat voorheen kwaai pro-Zuma was, maar op die kongres ten gunste van die Ramaphosa-groep geswaai het.

Mabuza, wat vroeër saam met Magashule en Supra Mahumapelo, premier van Noordwes, die Zuma-gesinde premiersliga gevorm het, het op die beleidskonferensie sy eie afgevaardigdes gestuit wanneer hulle die standpunte van die Ramaphosa-gesinde afgevaardigdes probeer keer het.

“Hy was duidelik heeltemal in beheer van die Mpumalanga-afvaardiging,” sê Rapport se bron.

Mabuza het vroeër vanjaar toenadering by die Ramaphosa-groep begin soek deur aan te voer dat ’n kompromis in die leierstryd aangegaan moet word om die verdeeldheid in die ANC onder beheer te bring.

Mpumalanga is nou die derde grootste provinsie in die ANC. Die geweld­dadige KZN is die grootste onbekende faktor in die aanloop tot die leierskonferensie in Desember.

ANC-ledetalle in KZN het bykans verdubbel sedert die vorige ANC-konferensie in 2012 in Mangaung waar dié afvaardiging die deurslag gegee het om Zuma herkies te kry.

ANC-lede in die provinsie is verdeel en KZN is die grootste van vier provinsies waarin bedrog met tot 200 000 vervalste lidmaatskapvorms in opdrag van Mantashe ondersoek word.

In Limpopo is nog 3 000 vervalste lidmaatskappe opgespoor. Oudits word ook in die Oos-Kaap en Mpumalanga gedoen. Mary de Haas, ’n ontleder van die organisasie Violence Monitor in KZN, sê die oudit is reeds in volle gang.
“Ek verstaan daar is reeds spooklede gevind by takke in die suidelike dele van die provinsie,” sê De Haas.

Sihle Zikalala, ANC-voorsitter in KZN, het by die beleidskonferensie gesê die provinsie sal baie meer afgevaardigdes na die leierskonferensie stuur as wat by die beleidskonferensie was. Dit sal egter afhang van die uitslag van die oudit wat laat in Augustus of vroeg in September verwag word.

Die afgevaardigdes sal nie in Desember heeltemal agter Dlamini-Zuma staan soos hulle in 2012 in Mangaung agter haar eksman gestaan het nie.

Daarvoor is die provinsie te verdeeld en Ramaphosa het heelwat steun. Die deurslaggewende faktor sal egter die ouditproses oor ledetalle wees.

Die huidige provinsiale leiers is in ’n regstryd gewikkel oor beweerde verkiesingsbedrog op die provinsiale kongres in 2015. “Die hofsaak word in Augustus weer aangehoor, maar gaan na alle waarskynlikheid weer uitgestel word en sal geen invloed op die afvaardiging na die leierskongres in Desember hê nie,” sê De Haas.

Die Oos-Kaap, die naasgrootste provinsie, hou einde vandeesmaand sy provinsiale leierskongres. Die provinsie is ook skerp verdeeld.
Oscar Mabuyane, die premier, is ’n Zuma-ondersteuner, maar Ramaphosa geniet ook heelwat steun in sy provinsie.

Tydens die afgelope beleidskongres het die vroueliga, die jeugliga en die veteranevereniging elk dieselfde status van ’n provinsie gehad, maar op die leierskongres in Desember gaan hul stemreg tot altesame 10% beperk word.
“Die Zuma-faksie het duidelik die onderspit gedelf op die beleidskongres, maar hulle gaan hergroepeer. Albei groepe is steeds vas oortuig dat hulle in Desember kan wen,” het ’n bron in die parlement gesê.

Bron: Netwerk 24
Skrywer: Jan de Lange


 

Enjoyed this post? Share it!