DNS-uitslae bekend ná man 31 jaar lank vermis was

Die familie van Dennis Haynes, die man van Bloemfontein wat 31 jaar gelede spoorloos verdwyn het, het Dinsdag die uitslae bekendgemaak van DNS-toetse wat gedoen is om te bepaal of hy werklik dieselfde Dennis is wat in 1986 vermis geraak het.

Volgens Desireé Haynes, Dennis se suster, het die DNS-toetse bewys dat sy en Dennis inderdaad broer en suster is.

“Ek het van die begin af geweet dit is my broer Dennis. Die DNS-uitslae is net ʼn stuk papier. Ek is bly dat die mense wat nog heeltyd gesê het dit is nie Dennis nie nou die bewyse het dat dit wel hy is, maar die grootste deel van ons familie het nog heeltyd geweet dit is hy,” het sy gesê.

Dennis was 22 jaar oud toe hy in 1986 van Bloemfontein na Roodepoort vertrek het vir ʼn werksgeleentheid. Sy vrou en eenjarige dogtertjie het in Bloemfontein agtergebly. Dennis het egter nooit teruggekeer nie en sy
familie kon hom nie in die hande kry nie. Hy is as vermis aangemeld by die polisie, maar ʼn soektog na hom het niks opgelewer nie.

Nadat ʼn vriendin van Desireé ʼn Facebook-blad begin het om teen alle verwagting in te kyk of sy nie dalk vir Dennis kan opspoor nie, het ʼn vrou wat hulp aan haweloses in Pretoria gee Dennis se foto gesien en haar gekontak. Sy het gesê dat daar ʼn hawelose man in Pretoria is wat moontlik Dennis kan wees.

Desireé is Pretoria toe om die man te ontmoet en hy het homself as Francois voorgestel, hoewel hy baie soos ʼn ouer weergawe van Dennis lyk wat 31 jaar gelede vermis geraak het.

Volgens Desireé ly die man aan erge geheueverlies en het hy ʼn vorm van breinskade opgedoen, vermoedelik nadat hy in ʼn tref-entrap-ongeluk betrokke was.
Dennis Haynes soos hy gelyk het toe hy vermis geraak het.

Dennis is sedertdien in ʼn hartroerende oomblik met sy ma in Bloemfontein herenig en woon nou by haar terwyl die familie steeds besig is om die stukke van die legkaart van die afgelope 31 jaar aanmekaar te sit.

“Ons weet basies dat hy die afgelope klompie jare haweloos in Pretoria was en gedink het sy naam is Francois. Wat ons nog moet uitpluis is wat daardie eerste 17 jaar wat hy vermis was, gebeur het,” het Desireé gesê.

Sy het gesê daar het reeds een vrou na vore gekom wat vir Dennis in daardie tyd geken het, maar daar moet uiteraard nog mense wees wat in hierdie tyd met hom te doen gehad het. “Ons wil ʼn beroep doen op enigiemand wat tussen 1986 tot 2003 met Dennis in Roodepoort kontak gehad het, om ons asseblief te kontak. Ons sal baie graag wil uitvind wat presies met hom gebeur het.”

Desireé het gesê weens Dennis se breinskade is dit onwaarskynlik dat hy ooit weer heeltyds sal werk, maar hy doen tans handewerk en maak onder meer sleutelhouers en armbandjies om homself besig te hou.

“Ons probeer hom nou by ʼn plek inkry wat sy brein kan help stimuleer en ons wag vir ʼn sielkundige en ʼn maatskaplike werker wat ook met hom en my ma sal werk en hulle sal help om hierdie nuwe aanpassing in hul lewens te hanteer,” het sy gesê.

“Dit is natuurlik vir my ma ʼn baie emosionele ding om haar seun wat sy 31 jaar terug verloor het net skielik terug te hê. En Dennis is nog baie deurmekaar en praat soms van goed waarvan sy nie weet nie en dan weet sy nie hoe om dit te hanteer nie. Natuurlik is dit ʼn aanpassing. Dit is nog ʼn lang pad vorentoe, maar ons sal daar deur kom. By ons was daar nooit enige twyfel dat dit wel Dennis is nie.”

Deur: Mariné Lourens/ Maroela Media


Enjoyed this post? Share it!