‘Doom-profeet’ se verhoor geskied Donderdag – wonder watter insekdoder hy die slag byderhand gaan hê

Die selfverklaarde profeet Lethebo Moncha Rabalago, wat glo sy volgelinge met Doom-insekdoder gespuit het, se verhoordatum is Donderdag in die Naboomspruit-landdroshof vasgestel.

Lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder vir Limpopo, het gesê Rabalago (24), die sogenaamde Doom-profeet, was Donderdag in die hof teenwoordig. Rabalago se verhoor is van 11 tot 14 Desember op die hofrol geplaas.

Hy staan tereg op ʼn aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer. Hy is op waarskuwing vrygelaat.

Maroela Media het vroeër berig Rabalago van die Mount Zion General Assembly spuit glo sy gemeentelede in die gesig en op ander liggaamsdele met Doom om hulle van kanker, MIV/vigs en ander siektes te “genees”.

Die departement van gesondheid in Limpopo het die hof genader om ʼn interdik te verkry om hom te verhoed om dit te doen, nadat foto’s van hierdie voorvalle in November verlede jaar aan die lig gekom het.

Deur: Maroela Media


Enjoyed this post? Share it!