Dr. Lets Pretorius se Nuwejaarsboodskap vir 2016 aan die Boerevolk vanuit Zonderwater

Tyd is die een entiteit in die tronk wat in oorvloed beskikbaar is en kan effektief, sinvol en skeppend aangewend word. Ek gebruik dit om te studeer, te skilder, te lees, te dig en oor die lewe en veral ook oor die bestaan en die toekoms van die Boerevolk met my seuns, Johan en Wilhelm, te filosofeer en te debatteer.

Ek het so pas die agt modules (1ste-, 2de- en 3de jaar) in Staatsleer by Unisa afgehandel om sodoende vir ’n BA-Honneurs kwalifikasie in Politieke wetenskap, vir die jaar 2016 te kan inskryf.

Ek het reeds met navorsing en ’n werkstuk begin wat as onderwerp vir verdere studies sal dien.

Die werkstuk is in die taal van die Antichris geskryf aangesien die teiken(s) vir wie die inhoud bedoel is, dit waarskynlik beter sal verstaan as wanneer dit in die taal van die Boerevolk gepleeg is. Ek deel graag ’n vertaling en verwerking van ’n uittreksel van die inleiding tot die werkstuk met u en vertrou dat dit as ’n boodskap vir 2016 vir sommiges kan dien.

Die werkstuk is in die vorm van ’n brief gerig aan ’n “onbekende prins”, die “uitverkore prins” wat Suid Afrika moet kom “red”.

Jes 24: 13-15 en Jes 51: 11-16

Geagte Prins,

Niccolo Machiavelli was ’n Italiaanse staatsman en historikus wie ’n welbekende boek ”Die Prins” in 1513, terwyl hy in politieke ballingskap was, geskryf het.

Die Prins is eers in 1532, na Machiavelli se dood, gepubliseer en bevat raad aan die potensiële toekomstige leier van die staat Florence (een van die berugte De Medici’s). Machiavelli onderrig hom oor staatsmanskap en gee hom raad oor politieke uitdagings en krisisse. Machiavelli roep om die verskyning van ’n “politieke verlosser”en vergelyk dit met die rol wat Moses tydens die uittog uit Egipte gespeel het. Alhoewel ek nie met Machiavelli se raad in die algemeen saamstem nie, is dit waar wanneer hy daarop aandring dat die Prins ’n totaal nuwe benadering tot die politiek sal moet inneem om die rol van politieke verlosser te kan speel.

Suid-Afrika is tans in ’n oorlewingstryd gewikkel en die politieke benadering ná 1994 het uitgeloop op ’n volslae teleurstelling. Selfs die mees liberale rolspelers wat in 1994 in euforie gejuig het, se tjank is afgetrap. Daar bestaan ’n geweldige gaping tussen die verwagtinge van die burgers en die prestasie wat die staat, volgens hulle aandeel in die sosiale kontrak en die grondwet, in die vorm van dienste en sekuriteit moet lewer. Hierdie gaping lei tot konflik en kan selfs oorgaan in ’n volskaalse rewolusie. Die burgers van alle rasse en kleure is teleurgesteld en ontnugterd in die “Reënboognasie” van die nuwe Suid-Afrika wat sou ontstaan en rasse spanning is besig om hand oor hand toe te neem. Die huidige regime versterk hierdie spanning. Sommige ontleders en profete, voorspel dat ’n “mislukte staat” en selfs ’n bloedbad onvermydelik is. Die ironie is dat die situasie ontstaan het nieteenstaande die feit dat Suid-Afrika volgens kenners oor die “wonderlikste en die mees moderne grondwet” beskik.

Om hierdie wonderlike land waarin ons leef te red van verdere agteruitgang en verval, is dit van kardinale belang om by ’n inklusiewe oplossing uit te kom; ’n oplossing waarbinne alle burgers, alle etniese groeperings en alle kultuurgroepe geakkommodeer word. Unieke en visionêre leierskap word benodig om by so ’n werkbare en permanente oplossing uit te kom. Dit benodig ’n “Machiavelliaanse Verlosser of Prins” wat bereid sal wees om die probleem en die oplossing met ’n totaal nuwe, onbevooroordeelde en objektiewe gesindheid te benader.

Die werkstuk self is sover moontlik objektief en koud klinies op grond van geskiedkundige feite saamgestel en alhoewel enige geskiedenis soms kan verander in “hisstory” in plaas van history, word daar voortdurend gepoog om objektief te bly.

Dit is egter ’n voorvereiste en dit word van die ware “Prins van Suid-Afrika” verwag om enige tradisionele hoed af te haal, sy vooroordele en wantroue te begrawe en die “oplossing” te benader met totale oorgawe, verbondenheid en toegewydheid tot die verkryging van ’n suksesvolle eindproduk wat tot voordeel van die hele land en sy mense sal wees.

Die dokument volg ’n strategiese benadering onder die volgende drie afdelings:

  • Die verlede word met ’n objektiewe bril ontleed,

Daar word gepoog om die wanvoorstellings oor wie inheems is en oor “wie van wie grond gesteel het” (indien daar ooit grond gesteel is), uit die weg te ruim.

Die rol wat elite groepe, asook die bydraes van die verskillende etniese groepe, gesamentlik en afsonderlik in die geskiedenis van Suid Afrika gespeel het, word onder die loep geneem. Daar word veral krities gekyk na die rol wat die Engelse as koloniale moondheid gespeel het.

Daar word objektief gekyk na die totstandkoming van die Boerevolk as inheemse volk in Suider Afrika.

  • Die huidige situasie in die land word onder ’n kritiese vergrootglas bekyk.

Die situasie voor en na 1994 word vergelyk.

Daar word krities gekyk na die resultate van die “post-1994 regimes”. Dit sluit die suksesse en die mislukkings in.

  • ’n Werkbare oplossing vir Suid-Afrika word ontleed, beplan en voorgestel.

Hierdie oplossing word geëvalueer in die lig van die raad en oplossings wat vóór 1994 deur kundiges aangebied is. Daar word gekyk na die suksesse maar veral gekonsentreer op alternatiewe oplossings vir die mislukkings van raad wat gevolg is.

Daar word gekyk na die rol wat ’n aangepaste konsosiatiewe model (volgens Lijphart) in ’n permanente oplossing vir Suid Afrika kan speel.

Hierdie model sluit onder andere die deelname van alle etniese en kulturele groepe binne ’n federale stelsel in. Die internasionale tendens is juis die erkenning van en die terugkeer na etnisiteit.

Indien die Boerevolk nog enigsins as entiteit ’n rol wil speel in die toekoms, sal daar ernstig introspeksie gehou moet word. My boodskap aan die Boerevolk (ek beskou myself as ’n lid), behels dat ons voortdurend moet poog om ons identiteit as volk uit te leef. Dit begin by jou, jy wat die boodskap lees. Getuig sonder om te skroom dat jy ’n Boer is. Dra die identiteit oor aan jou kinders en kleinkinders en vertel aan hulle wat dit beteken om ’n Boer te wees. Skakel radiostasies en help hulle reg as hulle die valsheid verkondig dat daar in 1838 Afrikaners by Bloedrivier geveg het terwyl die term Afrikaner eers in 1883 amptelik gebruik is deur die Afrikanerbond. Skryf briewe aan die koerante as hulle die Boer afkraak. Ons moet ophou om skaam te wees en te vereenselwig met die karikature wat die vyand in die media van ons probeer maak. Die Boer is deur die geskiedenis geneig om staat te maak op ’n leier wat moet voorloop. Ons het nie meer tyd  en die luukse om op ’n leier te wag nie. Elkeen wat in sy hart ’n Boer is, moet in hierdie dae opstaan as ’n leier in eie reg. Moenie wag vir ’n leier nie, JY is ’n leier.

Die Boerevolk het geen inspraak tydens die KODESA samesprekings gehad nie. Dit is ’n vorm van strukturele geweld wat teen ons gepleeg is. Indien ons ’n effektiewe rol binne die “nuwe oplossing” wil speel en indien ons met die Prins wil saamwerk en saambou aan die “nuwe oplossing” sal ons as Volk uit die blokke moet kom.

In die proses sal ons ook diep moet sny om die eie vooroordele en kankers in ons volk te verwyder. Ons sal daarin moet slaag om die Boerevolk te distansieer van die negatiewe beeld van die AWB en sekere fanatieke “godsdienstigegroeperings”. Ons sal ’n afstand tussen die Boerevolk en die Afrikaner-Broederbond-georkestreerde apartheidsregime moet skep. Ons sal moet wegbeweeg van die karikatuur van die Afrikaner wat met “kortbroek en boepens, brandewyn-en-coke in die hand, langs die braaivleisvuur; suggestiewe grappies maak en swymel oor rugbyspelende gladiatore”. Ons moet ons huwelike as boustene van die volk weer eerste stel, ons volkswaardes en norme herstel en die verbond van Bloedrivier gestand doen (eerder as om op Geloftedag in die straat te toi-toi).

Die Boer kon nog altyd met ons swart en gekleurde medelandsburgers oor die weg kom. Wedersydse respek vir mekaar se identiteit en kultuur was nog altyd deel van ons lewensbeskouing sonder om ons eie prys te gee of identiteite of kulture wil vermeng. Wedersydse respek moet uitgebou word en daar moet veral gewerk word aan wedersydse vertroue en geloofwaardigheid wat bestaan het en deur die argitekte van die apartheid, afgebreek is. Daar sal ernstig gewerk moet word aan ons bestaande negatiewe houdings en vooroordele teenoor alle “Nie-Boere”.

2016 gaan ’n jaar van uitdagings en krisisse wees, veral temidde van die ernstige droogte, ekonomiese agteruitgang en sosiale onbestendigheid. Kom ons maak dit ’n jaar waartydens die Boerevolk herontwaak en as eerbare en gerespekteerde rolspelers, wat bereid is om deel te wees van die oplossing, na vore te tree.

Boeregroete,

 OBIA IIII

Zonderwater

24 Desember 2015


freelets1


 

Enjoyed this post? Share it!