Drie gevaarlike verhoorafwagtendes ontsnap uit selle in Oos-Kaap

Die polisie in Elliotdale in die Oos-Kaap het ’n waarskuwing uitgereik dat hulle op soek is na drie verhoorafwagtendes wat Saterdag uit polisieaanhouding ontsnap het.

Kapt. Dineo Koena sê die mans, Bonginkosi Ndevu (24), Akhona Paji (25) en Mziwonke Coli (32), het omstreeks 18:00 ontsnap terwyl beamptes hul roetine-inspeksies gedoen het.

“Daar word beweer die beamptes is oorval deur die gevangenes in die sel. Die drie wat ontsnap het, het vinnig verdwyn terwyl die twee lede binne die sel opgesluit is. “Hulle is ongedeerd,” sê Koena.

“ ’n Uitgebreide soektog het gisteraand (Saterdag) onmiddellik begin en die polisie is steeds op hul spoor.”

Die polisie doen ’n beroep op die gemeenskap om nie die verdagtes te nader nie omdat die voortvlugtendes gevaarlik is.

Ndevu, van Mkathazo in Elliotdale, is in hegtenis geneem weens ’n gewapende rooftog wat in April vanjaar in Willowvale plaasgevind het.

Paji, van Khasa in Elliotdale, is aangekeer vir ’n voorval van moord en verkragting in April en Coli vir gewapende roof in November 2016.

“ ’n Interne ondersoek na die ontsnapping is ook geloods,” sê Koena.

Die polisie doen ’n beroep op die gemeenskap om nie die verdagtes te nader nie omdat die voortvlugtendes gevaarlik is.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!