Drie vlug glo met R30 miljoen in Kimberley

Kimberley. – Drie gewapende rowers het Vrydagaand na bewering met sowat R30 miljoen weggekom nadat hulle ’n wag van ’n bekende sekuriteitsmaatskappy in Kimberley oorval het.

Volgens ’n ingeligte is ’n vroulike sekuriteitswag vasgemaak en aangehou terwyl die rowers die geld in ’n voertuig gelaai het.

Die voorval het by die maatskappy se hoofkwartier gebeur.

 Lt. Pilane Nkwalase, Valke-woordvoerder, het die voorval bevestig.

“Die voorval het Vrydagaand ná 19:00 gebeur. Twee wagte was aan diens. Die een wag het na die winkel gegaan om medisyne oor die toonbank te koop.

“Terwyl hy weg was, is die kantoor se elektrisiteitstoevoer afgesny. Die vroulike wag is na buite om asem te skep. Sy is na bewering deur die mans oorval en haar wapen is afgevat.

“Sy is na binne geneem en haar hande en voete vasgebind.”

Die drie gewapende mans het na bewering die onbekende bedrag geld, asook afstandbeheermeganismes en haar wapen, gebuit.

“Haar kollega het haar met sy terugkoms gesoek. Hy het haar gevind en losgemaak. Hulle het die polisie ontbied.

“Niemand is nog in hegtenis geneem nie. Daar is nie tekens van ’n inbraak nie. Die wag is nie ten tyde van die voorval beseer nie.

“Die ondersoek duur voort. Ons hoop om binnekort ’n deurbraak te maak. – Bron Netwerk24

Enjoyed this post? Share it!