Driejarige Kleuter van Brakpan tydens gewapende huisroof geskiet

ʼn Driejarige seun is Woensdagoggend tydens ʼn huisroof in Brakpan aan die Oos-Rand geskiet.

Kapt. Pearl van Staad, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê die kleuter en sy ouers het vermoedelik in die hoofslaapkamer van die huis geslaap toe die voorval gebeur het. Die man het omstreeks 02:00 wakker geskrik van die geluid van ʼn venster wat breek. Hy het opgestaan om ondersoek in te stel en het hom teen ʼn gewapende rower vasgeloop.

“Die rower het ʼn skoot afgevuur, maar dit het die man gemis. Die man het kamer toe gehardloop en die deur probeer toedruk,” het Van Staad gesê. Volgens Van Staad was die kind en sy ma in hierdie tyd op die bed in die kamer.

Die rower het nog ʼn skoot deur die kamerdeur afgevuur voordat hy die deur oopgeskop het. Hy het die kamer ingestorm en ʼn derde skoot afgevuur wat die seuntjie in sy regterarm getref het. Die rower het met die ouerpaar se selfone, wat op hul bedkassies gelê het, op die vlug geslaan.

“Die seun is na ʼn hospitaal geneem waar hy tans in ʼn stabiele toestand is. Die pa het ook ʼn besering aan sy gesig opgedoen toe die deur hom getref het toe die rower dit oopgeskop het,” het Van Staad gesê. Sy het gesê die kleuter se ma is ongedeerd.

ʼn Saak van huisroof word ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Deur: Maroela Media


Enjoyed this post? Share it!