Droogte nie regering se skuld, sê ANC

droogteDie landwye droogte en waterkrisis is nie by Luthuli-huis of die Uniegebou “vervaardig” nie.

Dit is ’n probleem waarmee regerings wêreldwyd sukkel.

Só het die ANC gister gesê tydens ’n debat in die Wes-Kaapse parlement oor die huidige waterkrisis en droogte in die land.

HULLE KAN BAIE GERIEFLIK DIE GOEIE DINGE WAT DIE ANC DOEN, IGNOREER. DIE NASIONALE REGERING HET SOVER MEER AS GENOEG GEDOEN OM OP DIE DROOGTE TE REAGEER.

Richard Dyanti, ANC-LPP, het gesê dit is in die DA se bloed om die ANC-beheerde nasionale regering sleg te sê.

“Hulle kan baie gerieflik die goeie dinge wat die ANC doen, ignoreer. Die nasionale regering het sover meer as genoeg gedoen om op die droogte te reageer. Die nasionale regering het miljoen rande aan boere beskikbaar gestel. Banke het ook lenings aan boere beskikbaar gestel wat gebruik kan word om hul ondernemings mee aan die lewe te hou.

“Die DA kom hier en gebruik hierdie platform om soos altyd die ANC sleg te sê. Kom ons praat oor die dinge wat saak maak. Kom ons praat oor die Nasionale Ontwikkelingsplan; kom ons praat oor wat ons hier kan doen. Kom ons werk saam. Hierdie is ’n kwessie wat ons nie kan verpolitiseer nie,” het Dyanti gesê.

Landboukenners meen Suid-Afrika is op die drumpel van ’n humanitêre krisis indien die voortslepende droogte nie daadwerklik aandag kry nie.

In minder as ’n jaar het boere in die Wes-Kaap meer as R1,2 miljard verloor. Teen einde Junie 2015 het boere dwarsoor Suid-Afrika met skuld van meer as R125 miljard gesit weens die droogte.

Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, het gesê die waterkrisis word al erger terwyl die nasionale regering versuim om te erken dat dit ’n nasionale ramp is.

“Terwyl sekere gebiede in die Wes-Kaap tans meer as genoeg water het, is dit vir my ’n groot bekommernis dat sekere streke nie genoeg water het nie.

“In die Suid-Kaap is daar genoeg water, die damvlakke daar is tans 85% vol. In Theewaterskloof is die damvlak op 31,4%. In die Bergrivier- en Brandvleigebiede is die damme 18,2% vol. Ander groot damme soos die Clanwilliamdam is 14,2% vol en die Voëlvleidam 21,9%,” het Bredell gesê.

“Mooi, man, Anton, jy hoort hier by ons!” het Dyanti luidkeels geskree.

Beverley Schäfer, DA-LPP, het gesê die droogte gaan veroorsaak dat landbouboere vinnig bankrot verklaar word.

“Ekonome voorspel dat die kospryse met 11% gaan styg weens die droogte. In Maart het die kospryse reeds met 8% gestyg. Dit kan nie so aangaan nie. Die armste van armstes gaan seerkry,” het sy gesê.

Ferlon Christians, ACDP-LPP, het gesê politici moet nie die droogte en waterkrisis vir hul eie gewin gebruik nie.

“Wees baie versigtig. Dit is ’n kwessie wat ons almal raak. Ons kan nie hierdie kwessie as ’n politieke speelbal gebruik nie,” het hy gesê.

Alan Winde, Wes-Kaapse minister van ekonomiese geleenthede, het gesê: “Die nasionale departement van grondhervorming gaan bou liewers ’n gimnasium op Beaufort-Wes. Dalk wil hulle mense laat oefen en nie grond teruggee aan gemeenskappe nie. Ek verstaan dit nie.” Bron – Netwerk24

Enjoyed this post? Share it!