Droogtehulp: Miljoene Rande Verdwyn – Wie Het Die Geld Wat Die Boere Toegekom Het In Sy Sak Gesteek?

Meer as R1 miljard is in 2016 deur drie staatsdepartemente vir droogtehulp aan Suid-Afrika se kommersiële en opkomende boere toegewys. Net 5% van hierdie geld het glo die boere bereik.

AgriSA het daarom die ouditeur-generaal en die openbare beskermer (OB) versoek om ’n forensiese oudit te laat doen in ’n poging om vas te stel wat van die res van die geld geword het.

Omri van Zyl, uitvoerende hoof van AgriSA, sê bedrog en korrupsie in die regering se droogtehulpprogram moet oopgevlek word.

AgriSA het reeds verslae hieroor opgestel en sal dit Woensdag aan die ouditeur-generaal en die openbare beskermer oorhandig.

Volgens Van Zyl het AgriSA reeds sy eie ondersoek gedoen na die enkelinge en sogenaamde maatskappye wat by die droogtehulpskema betrokke was. Geen tenders vir die bestuur van die geld is aangevra nie, omdat Suid-Afrika ’n rampsituasie ervaar het.

AgriSA se ondersoek dui daarop dat van die maatskappye wat by die skema betrokke was en droogtehulp moes verleen, glad nie bestaan nie en nêrens geregistreer is nie. Die vermoede bestaan ook dat amptenare in die departemente van landbou, bosbou en visserye, asook water en sanitasie, ook by die skema baat gevind het.

Van Zyl sê AgriSA, die TLU SA en die Vereniging van Swart Boere (Afasa) het in 2016 aangebied om staatsdepartemente te help om die droogtehulp te bestuur, maar dit is van die hand gewys. “Ons het al die strukture om dit te doen, maar dit is geweier.

ONS WIL WEET WIE HET DIE GELD WAT DIE BOERE TOEGEKOM HET IN SY SAK GESTEEK

Omri van Zyl, uitvoerende hoof van AgriSA
“Ons ondersoek het bevind een van diegene wat betrokke was by die skema, het R287 000 gekwoteer om ’n boorgat te sink en pompe te installeer, terwyl dit sowat R187 000 behoort te beloop. Ons wil weet wie het die geld wat die boere toegekom het in sy sak gesteek,” sê Van Zyl.

In die Noord-Kaap was daar na bewering groot ongerymdhede. “Ons vermoed ’n klomp tenderpreneurs het baie by die droogtehulp baat gevind en ons wil tot by die kern daarvan uitkom,” sê Van Zyl.

Meer besonderhede oor AgriSA se ondersoek sal Donderdag bekend gemaak word.


 

Enjoyed this post? Share it!