Dubbele standaarde om hantering van rassisme in SA hok te slaan op been gebring

Die burgerregte-organisasie AfriForum het Maandag in een van sy mees omvangryke stappe nog om dubbele standaarde rakende die hantering van rassisme in die land hok te slaan ʼn nuwe eenheid bekendgestel wat rassisme en haatspraak sal vasvat.

Ernst Roets, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, wat die teenrassisme-eenheid gaan lei, het tydens die bekendstelling van die eenheid Maandag in Centurion beklemtoon dat AfriForum alle vorme van rassisme en haatspraak sal beveg, maar dat die eenheid ook standpunt gaan inneem teen dubbele standaarde met betrekking tot rassisme en haatspraak.

“Ons navorsing dui voortdurend daarop dat wit rassisme deurlopend aggressief veroordeel word, terwyl swart rassisme dikwels geïgnoreer, of in sekere gevalle selfs verdedig word. Om een vorm van rassisme te beveg en terselfdertyd ʼn ander vorm van rassisme te aanvaar, verdedig of selfs te bevorder, is op sigself ook ʼn vorm van rassisme.”

Verskeie rolspelers, wat hulle as raadgewers tot hierdie eenheid verbind het, het as sprekers by die bekendstelling opgetree en verskillende aspekte van wat die eenheid beoog, uitgelig. ʼn Verslag getiteld, “Confronting racism consistently”, is ook by die geleentheid bekendgestel.

Die temas wat die onderskeie raadgewers by die bekendstelling behandel het, sluit in:

Dr. Frans Cronje, uitvoerende hoof van die Instituut van Rasseverhoudinge (IRR), het aangedui dat hul navorsing herhaaldelik daarop dui dat die meerderheid mense van alle rasse in Suid-Afrika in vrede met mekaar wil saamleef, maar dat daar wel ʼn probleem by die ekstreme pole bestaan, waar rassisme aangehits word.
Die burgerregte-aktivis Rhoda Kadalie het in haar aanbieding beklemtoon dat ras toenemend in Suid-Afrika as politieke wapen gebruik word.

Adv. Mark Oppenheimer, spesialis in spraakvryheid en haatspraak, het die lyn tussen vryheid van spraak en haatspraak uitgelig en riglyne gegee vir die bevordering van spraakvryheid, terwyl haatspraak beveg word.
Dr. Llewellyn Curlewis, strafregkenner, het die regsremedies wat tot ʼn mens se beskikking is om rassisme te beveg, uitgelê.

Roets het ook tydens die konferensie ʼn breë aksieplan vir hierdie eenheid uiteengesit. Dit sluit die volgende in:

Deelname aan gesprekke en ideevorming oor die kwessie;
Konsekwente veroordeling van rassisme;
Insameling en ontleding van data;
Voortdurende navorsing oor rassisme en haatspraak;
Siviele litigasie;
Strafregtelike klagtes;
Privaat vervolging; en
Internasionale bewusmaking.

Die eenheid sal deur AfriForum bedryf word en verskeie rolspelers sal deurlopend by die aktiwiteite van hierdie eenheid betrek word.

Dr. Frans Cronje van die Insituut van Rasseverhouding het gesê die gemiddelde Suid-Afrikaners het nog ‘n goeie verhouding met mekaar en minder meningsverskille as wat gereken word. Cronje sal een van die raadgewers vir die eenheid wees. Foto: Esté Meyer Jansen/Maroela Media.

Deur: Maroela Media


Enjoyed this post? Share it!