Eens ‘n kroonjuweel van Kroonstad nou onderbenutte oord kos belastingbetalers miljoene

Kroonpark wat eens een van die besonderse kroonjuwele van Kroonstad was, is deesdae ’n onderbenutte oord wat die Moqhaka-munisipaliteit se belastingbetalers sowat R18,5 miljoen jaarliks uit die sak jaag.

Verder slaag dit ook nie in sy doel om deur toerisme ekonomiese oplewing in Kroonstad of die Vrystaat te bring nie.

So sê George Michalakis, DA-lid van die parlement, wat deel was van ’n afvaardiging van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) wat verlede week in die Vrystaat gekyk het na projekte waarmee die provinsie werk kan skep en die ekonomie gestimuleer kan word.

Michalakis sê dit het hom ontstig dat geldstate wys Kroonpark is in Januarie, Februarie en Maart vanjaar teen maandelikse verliese van tussen R600 000 en R800 000, bedryf.

“Die begroting om Kroonpark jaarliks te bedryf is sowat R10 miljoen waarby sowat R8,5 miljoen se bykomende verliese getel word, wat beteken dat Kroonpark Kroonstad se belastingbetalers jaarliks sowat R18,5 miljoen kos.

“Toeriste is maar traag om hier te oornag en baie sê reguit hulle sal eerder betaal om nie hier te bly nie. Boonop verkies die Vrystaatse ANC-regering om eerder ’n gastehuis in die nabye omgewing vir gesellighede te gebruik.”

Michalakis sê die oortydbetaling vir werkers was in Januarie R160 000 en in Maart R50 600, terwyl amptenare hier skofte werk.

Klagtes is ook dat die oord uitverhuur word. Sleutels word dan glo sommer vir die mense gegee sonder enige toesig van die munisipale kant af.

Michalakis sê dit verstom hom dat tussen 75% en 85% van die begroting jaarliks gebruik word om personeel te betaal, oortydgeld uitgesluit.

Hy sê by die kafeteria was nie veel voorraad toe hulle daar opgedaag het nie. “Dit lyk nie eintlik of dit heeltemal in bedryf is nie.”

Michalakis meen die oplossing sal wees dat Kroonpark liefs geprivatiseer word of op lang termyn uitverhuur word aan iemand wat dit namens die munisipaliteit kan bedryf.

“Die plek word eenvoudig nie winsgewend bedryf nie.

“Personeel by die oord kan ook net oproepe ontvang, maar nie self oproepe maak nie. Hulle doen besprekings net deur die internet.”

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!