EFF en die SAKP se Rooi Koalisie sneuwel in Sasolburg distrik

Die sogenaamde Rooi Koalisie het gesneuwel nog voordat dit kon begin, en nou is die moontlike koalisievennote behoorlik die duiwel in vir mekaar.

Nadat die verkiesing in die Metsimaholo munisipaliteit (Sasolburg en omstreke) op ‘n dooiepunt uitgeloop het, het die EFF en die SAKP gepoog om ‘n sogenaamde Rooi Koalisie te vorm.

Die koalisie het egter gesneuwel toe die SAKP die ANC ondersteun het en nie vir die eerste raadsvergadering opgedaag het nie, met die gevolg dat die vergadering tot volgende week uitgestel moes word.

Nou beskuldig die EFF die SAKP van ontrouheid omdat hulle met die ANC saamgewerk het. Die EFF beskuldig die SAKP en ANC daarvan dat hulle beide in wese ANC is, maar net verskillende faksies verteenwoordig wat wag om te sien wie wen die ANC se leiersverkiesing. Volgens die EFF het die SAKP die kiesers mislei deur voor te gee dat hulle die ANC uit die kussings wil lug. Dit blyk nou dat hulle hul setels gebruik om hulle posisie binne die ANC te verstewig.

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!