EFF kry spoor van ‘verlore R26 m.’ in Noord-Kaap

Die Noord-Kaapse EFF reken hulle het die spoor van die “verlore R26 miljoen” gevind wat glo wederregtelik gebruik is om vir die provinsiale ANC-konferensie in Mei te betaal.

Shadrack Tlhaole, provinsiale voorsitter van die EFF, sê hulle het pakke dokumente wat hulle aan die Valke en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) wil oorhandig.

Die EFF sê die Suid-Afrikaanse Inkomstediens moet sy bewerings van geldwassery en belastingontduiking ondersoek.

Tlhaole en Aubrey Baartman, provinsiale sekretaris, beweer dat drie maatskappye in die John Taolo Gaetsewe-distrik in Maart kontantbedrae in ’n rakmaatskappy in die naam van ’n hooggeplaaste ANC-leier se aktiewe bankrekening gedeponeer het. Die geld is daarna onmiddellik onttrek.

Die geld is glo omkoopgeld van konsultasiemaatskappye wat baie winsgewende kontrakte van die Gamagara-, die Ga-Segonyana en die Joe Morolong-munisipaliteit kry.

Die bedrae wat ter sprake is, R50 00 wat op 7 Maart inbetaal is, R125 000 op 22 Maart en R200 000 op 25 Maart.

Dit was voor kort voor die ANC-konferensie en Tlhaole beweer daar is ’n verband.

Hy wou nie nog besonderhede gee nie omdat hy die dokumente aan die Valke wil oorhandig. Hy wil dit aan die Valke se nasionale kantoor oorhandig omdat hy die provinsiale kantoor nie vertrou nie.

Hy gaan ook aan die openbare beskermer skryf.

Die premier het blykbaar nog nie druk op die Valke geplaas is. Is daar ooit ’n saaknommer?

Shadrack Tlhaole

Luidens ’n City Press-berig het Sylvia Lucas, premier, in Mei dokumente aan die Valke oorhandig.

Sy het op dié dag twee LUR’e die trekpas gegee. Een van hulle was Mack Jack van ekonomiese ontwikkeling, finansies en toerisme.

Die bewering is dat geld van sy departement deur ’n ontwikkelingsfonds vir klein- en mediumgroot sakeondernemings gekanaliseer en misbruik is om vir die konferensie te betaal.

Die geld is glo misbruik om vir die

infrastruktuur op die konferensie, asook verblyf, kos en T-hemde, te betaal.

Volgens Tlhaole word die saak wat Lucas aanhangig gemaak het nie werklik deur die Valke ondersoek nie.

“Die premier het blykbaar nog nie druk op die Valke geplaas is. Is daar ooit ’n saaknommer?”

Tlhaole sê daar is ook soortgelyke bewerings van korrupsie in die Namakwa-, die Pixley Ka Seme- en die C.F. Mcgacwu-distrik wat hulle later bekend sal maak.

Daar is volgens hom ook erge korrupsie met betrekking tot sonplaaskontrakte wat in die Noord-Kaap toegeken is.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!