EFF-ondersteuners voel gegrief – ruk op na Guptas se Shiva-uraanmyn met memorandum aangaande arbeidseise

Honderde EFF-ondersteuners het Donderdag na die Guptas se Shiva-uraanmyn in Hartbeesfontein in Noordwes opgeruk en ’n memorandum met arbeidseise aan die mynbestuur oorhandig.

Volgens Betty Diale, provinsiale leier van die EFF in Noordwes, is hulle tevrede dat die optog vreedsaam verloop het, maar hulle is ongelukkig omdat die myn se bestuurshoof nie hul memorandum ontvang het nie. “Een van die ander mynbestuurders het dit ontvang.”

Diale sê die EFF-ondersteuners wat van die Tigane-township buite Hartbeesfontein na die myn se kantoor in die dorp geloop het, het mense van die gemeenskap en mynwerkers ingesluit.

“Die mense in die gemeenskap vra dat die myn hulle in diens neem.”

Die EFF eis onder meer ook dat alle kontrakwerkers vas aangestel word en beweerde onregverdige arbeidspraktyke, soos die afdanking van werkers sonder behoorlike verhore, gestaak word.

Hulle wil ook ’n verslag van die myn hê oor swart ekonomiese bemagtiging en die uitbetaling van bonusse. Die EFF eis ook dat die myn beurse aan werkers verskaf.

Die myn het nou sewe dae om op die eise te reageer.

Maritha Coetzee, DA-raadslid in die Matlosana-munisipaliteit wat die gebied bedien, sê dis nie die eerste keer dat oor dié kwessies beswaar gemaak word nie, maar die myn gee volgens haar nie gehoor aan die werkers se eise nie.

“Die ANC het ook ’n vorige keer betoog. Indien die myn nie na die mense luister nie, gaan die volgende optog beslis nie vreedsaam wees nie. Die dorp gaan dan skade ly en dis nie regverdig nie.”

Volgens Coetzee het ’n klein groepie mense wat tydens die optog “gelyk het soos kwaaddoeners en agterna gedrentel het” ’n stuk veld naby ’n skool in die dorp aan die brand gesteek. Die brandweer is ontbied en die brand is geblus. “Geen ernstige skade is aangerig nie, behalwe ’n kragkabel wat gebrand het. Die krag is darem nog aan,” het Coetzee gesê.

Diale van die EFF sê egter die brandstigters was nie werklik deel van hul groep nie.

Niemand het Donderdagmiddag die myn se telefoon beantwoord nie.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!