EFF: Raak ontslae van ‘Die Stem’ in Suid-Afrika se volkslied

“Die Stem” moet volgens die EFF uit Suid-Afrika se volkslied verwyder word omdat dit ’n “apartheidoorlogslied teen swart mense is wat in die vullisblik van die geskiedenis hoort”.

Dít was Sondag dié party van Julius Malema se oproep op Erfenisdag.

Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, sê verder in ’n verklaring “Die Stem”-gedeelte hoort nie in die trotse melodieë van ’n veelrassige, demokratiese Suid-Afrika nie.

“Ons volkslied moet ‘Nkosi Sikelel’ iAfrika’ wees soos dit gedurende die bevrydingstryd gesing is. Dit is volledig en genoeg sonder die Europese tale.”

Die EFF het ook ’n beroep gedoen dat alle simbole van apartheid en kolonialisme uit openbare ruimtes verwyder word.

“Hulle hoort ook in die vullisblik van die geskiedenis”.

When they took the land, it was called colonialism not theft but when we rightfully so expropriate without compensation is called land theft
— Julius Sello Malema (@Julius_S_Malema) September 24, 2017

Ndlozi het herhaal dat die viering van erfenis nutteloos is solank swart Suid-Afrikaners steeds sonder grond en die eienaarskap van die land se mineraalrykdom is.

“ ’n Grondlose nasie behoort hul erfenis te gebruik vir hul kollektiewe krag om te veg vir ’n plek wat hulle ‘huis’ kan noem. Ons doen ’n beroep dat die grond aan hul regmatige eienaars, swart mense, teruggegee word deur die beginsel van onteiening van grond sonder vergoeding vir gelyke herverspeiding.”

Ndlozi het bygevoeg dat swart mense ook trots moet wees om van Afrika te wees en nie daarvan moet probeer wegvlug deur die Weste na te boots nie.

“Laat ons trots wees op ons erfenis en, veral, ons verlede onthou soos ons dit gebruik om ’n beter toekoms te maak.”

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!

 
  • Francois Joubert

    Ek stem saam. Vervang dit met Bobbejaan Klim die Berg.

    • Bokkie Swanepoel

      Ja nee sal nooit vervang kan word ni.