EFF val Orania vriendelik binne

Orania. – Leiers van die Orania-beweging is eergistermiddag uit hul tuinklere geruk vir ’n vriendelike “verrassingsaanval” van ’n EFF-afvaardiging wat uit plaaslike, provinsiale en nasionale verteenwoordigers bestaan het.

Carel Boshoff, president van die Orania-beweging, sê hulle het nie vooraf van die besoek geweet nie.

“Ons is uit die bloute gebel en versoek om die EFF-afvaardiging te ontmoet. Hulle gebruik militêre aanspreekvorms, daarom kan ek maar sê dit was ’n verrassingsaanval.”

 Boshoff sê hulle het sowat twee uur in die konferensiesaal met die sowat 40 EFF-lede oor Orania se bestaansreg en uitgangspunte gesels.

“Dit was ’n simboliese besoek, iets wat gewoonlik voor ’n munisipale verkiesing sal gebeur. Orania val in wyk 2 van die Thembelihle-munisipaliteit in Hopetown. Ons inwoners neem nie juis aan munisipale verkiesings deel nie; eerder aan die provinsiale en nasionale verkiesing.

“Die EFF is welkom om lede hier te werf. Die Onafhanklike Verkiesingskommissie gaan ieder geval ’n stembus opstel sodat mense van omliggende plase hier kan stem.

“Hulle glo aan gratis toegang tot byvoorbeeld mediese dienste en behuising. Ons glo wanneer iemand daarvoor betaal, hy meer verantwoordelikheid toon. As mense self hul skole bou, gaan hulle dit nie afbrand nie.”

Die ander besprekingspunte was hoe die party en Orania kan saamwerk om toerisme, landbou en ekonomiese geleenthede te laat gedy.

Danny Jonas, burgemeester van die Thembelihle-munisipaliteit en ’n EFF-kandidaat, sê hulle is “met oop arms” verwelkom.

“Om die waarheid te sê, Orania het Julius Malema, ons hoofbevelvoerder, vir ’n besoek genooi.

“Hulle sê hy praat harde politiek en hulle wil graag saam harde politiek praat.”

Jonas sê hulle wil beslis stemme in Orania werf.

“Ek sal graag die helfte van Orania se stemme op my wil vestig. Ons onderskei nie tussen wyke nie. Die party het in 2014 vier stemme in die nasionale en provinsiale verkiesing uit Orania gekry.”

Hy glo ook dat hy die ANC sal verslaan.

Hy sê daar is ooreenkomste tussen Orania en die EFF. “Mense dink swart mense word geskiet en verwilder as hulle in Orania kom. Mense dink ook die EFF betoog en baklei aanmekaar. Albei aannames is verkeerd.”

Jonas sê hy het as burgemeester goed met Orania op baie gebiede saamgewerk.

Bron Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!