Egpaar aangerand en met kettings vasgebind tydens plaasaanval in KwaZulu-Natal

ʼn Bejaarde egpaar is Vrydagaand op hul plaas naby Ixopo in KwaZulu-Natal deur ʼn onbekende aantal aanvallers oorval, vasgebind en erg aangerand.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media gesê dievoorval het omstreeks 18:00 gebeur. Volgens Zwane is min inligting tans beskikbaar.

Dit is nie duidelik hoeveel aanvallers daar was nie. Hy het gesê die egpaar was buite op pad na hul huis toe hulle oorval is en deur die aanvallers die huis in geneem is.

“Die aanvallers het die egpaar met kettings en toue vasgemaak en erg aangerand. Hulle het daarna ʼn onbevestigde bedrag kontant geroof voordat hulle te voet gevlug het,” het hy gesê. Die egpaar is later na ʼn hospitaal geneem, maar dit is nie duidelik hoe hulle daarin geslaag het om hulp te ontbied nie.

Volgens Zwane is die man 87 jaar oud en sy vrou 79 jaar. Zwane het gesê ʼn saak van huisroof word ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Bron: Maroela Media


Enjoyed this post? Share it!