Egpaar van Mpumalange getraumatiseer na wreedaardige plaasaanval

WAARSKUWING: Die foto’s onderaan die berig kan sensitiewe lesers of kinders ontstel.

Dries (70) en Mariaan Schoeman (68), die egpaar wat Woensdag op hul plaas in Mpumalanga beroof en erg aangerand is, is erg getraumatiseer deur die voorval.

Maroela Media het vroeër berig die egpaar is buite hul huis oorval en met staaldraad vasgebind en aangerand voor hulle beroof is.

Pieter Schoeman, die egpaar se seun, het aan Maroela Media vertel sy ma het Woensdag omstreeks 16:00 by die huis gestop toe vier mans haar van agter oorval en met ʼn skerp voorwerp aangerand het.

Hulle het haar daarna met staaldraad vasgebind.

Volgens Pieter het sy pa byna ʼn uur later by die hek gestop, waar hy sy vrou – wat deurdrenk met bloed was – gesien het.

Hy het haar probeer losmaak, maar is volgens Pieter toe ook deur die aanvallers van agter oorval.

“Hulle het hom met ʼn skerp voorwerp sowat vier of vyf houe op die kop gegee, en hom toe ook vasgebind. Hulle het my ma en pa toe in die bos ingesleep en hulle daar gelos terwyl hulle my ouers beroof het.”

Volgens Pieter is hulle onseker presies hoe sy ma en pa aangerand is, maar albei van hulle was deurdrenk met bloed.

“Hulle moes hul albei met ʼn skerp staalvoorwerp geslaan het, want daar was baie bloed. Dit was ʼn wrede aanval; hulle is nie bloot vasgemaak nie. My pa het onder meer skedelbreuk opgedoen, beide sy oë is toegeswel, en hy het ook bloeding op die brein,” sê Pieter.

Die egpaar het die grootste gedeelte van die nag in die bos deurgebring. “Dit was gelukkig ʼn warmer aand, anders het hulle dit dalk nie in die koue oorleef nie.” kon Donderdagoggend vroeg daarin slaag om haarself los te maak, maar die drade aan Dries se liggaam was te styf gedraai. Sy het toe na bure gevlug wat die plaaslike buurtwag en polisie ontbied het.

Mariaan is na die Waterval-Boven-hospitaal in Mpumalanga vervoer, en Dries is per helikopter na ʼn hospitaal in Witbank vervoer omdat die naaste neuroloog daar praktiseer.

Dokters het egter intussen gesê dit is nie nodig om ʼn noodoperasie op Dries uit te voer nie, hoewel hy in die hospitaal moet aansterk en moontlik later geopereer sal word. Beide sy oë is steeds toegeswel.

Mariaan is Vrydag uit die hospitaal ontslaan, en bly tans by familie oor. “Ek weet nie hoe sy ontslaan is ná wat hulle aan haar gedoen het nie. Hulle is stukkend – ons is net bly hulle leef.”

Sers. Gerald Sedibe, provinsiale polisiewoordvoerder, het aan Maroela Media gesê een verdagte isVrydag in hegtenis geneem.

Volgens Sedibe is talle gesteelde goedere, waaronder twee stowe, twee yskaste, ʼn stofsuier, houtwerkgereedskap en ʼn waentjie, ook teruggekry. Die goedere sal binnekort deur die familie uitgeken word. Die egpaar se waentjie, wat glo deur die aanvaller gesteel is om die goedere mee te vervoer, is ook teruggekry.

Volgens Marius Müller, nasionale veiligheidskoördineerder van AfriForum, is die verdagte vasgetrek in samewerking met die Waterval-Boven SAPD en AfriForum se Machadodorp-buurtwag wat deur beeldmateriaal – waarop die aanvaller se registrasienommer wys – gekyk het.

“Daar Die verdagte is toe by sy huis, met al die gesteelde goedere steeds daar, in samewerking met die SAPD-taakspan en AfriForum vasgetrek,” sê Müller.

Müller sê die hoekyster waarmee die verdagte na bewering die egpaar aangeval het, is ook op die toneel opgetel en gestuur vir forensiese ondersoeke.

Bron: Maroela Media


Enjoyed this post? Share it!