Eienaar van Big Creek Guest Lodge naby Rustenburg vermoor

Arno Niehaus (53), die eienaar van die Big Creek Guest Lodge naby Rustenburg in Noordwes, is Sondagoggend dood in sy woning by die lodge aangetref.

Sers. Kelebogile Moleko, woordvoerder van die polisie, het aan Maroela Media bevestig ʼn man se liggaam is omstreeks 11:00 op die vloer van sy woning by die lodge in die Maanhaarrand-gebied gevind. Volgens Moleko was die man se liggaam halfnaak en was daar kneusplekke reg oor sy liggaam.

“Daar was ook sigbare merke aan sy nek en die polisie vermoed dat hy verwurg is. ʼn Nadoodse ondersoek sal egter die oorsaak van sy dood bevestig,” het Moleko gesê. Sy het gesê daar kan nie in dié stadium bevestig word of daar enigiets uit die woning gesteel is nie, aangesien die man alleen was toe hy oorval is.

ʼn Saak van moord word ondersoek en niemand is nog in hegtenis geneem nie. Marius Müller, nasionale veiligheidskoördineerder van AfriForum, het aan Maroela Media gesê volgens sy kennis het Niehaus se minderjarige seun op sy liggaam afgekom. Müller het gesê AfriForum se trauma-eenheid sal berading aan Niehaus se kinders
verskaf.

Die nuus oor Niehaus se dood het vinnig op sosialemediaplatforms versprei en boodskappe van skok en medelye is deur verskeie mense gedeel.

Aprille De Carvalho het Sondag geskryf Niehaus was iemand wat net goed vir baie mense was.
“Ek het geen woorde nie. Net ʼn diep pyn in my bors,” het sy geskryf.

Niehaus se moord is een van talle aanvalle wat die afgelope naweek landswyd plaasgevind het. Piet en Tilla van Zyl is dood nadat hulle Saterdagaand op hul plaas in die Roedtan-omgewing in Limpopo oorval is. Anton Smuts (62) van Kinross in Mpumalanga is ook Saterdag tydens ʼn plaasaanval vermoor.

Drie mense is Sondag op ʼn plaas in die Barberton-omgewing oorval en vasgebind. Daar word verneem die boer het slegs beserings opgedoen.

Nóg ʼn aanval het Maandagoggend op ʼn plaas in die Winterton-omgewing in KwaZulu-Natal plaasgevind. Maroela Media verneem dat een verdagte tydens die aanval doodgeskiet is, maar dit kon nog nie deur die polisie bevestig word nie.

Lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie is steeds op die toneel en hy sal eers later meer inligting oor die voorval kan gee.

Deur: Maroela Media


Enjoyed this post? Share it!