Ek woon in Orania, Presteer en Loop Voor! Maar Orania benodig nou dringend ‘n Universiteit.

Terwyl ons in Orania hard werk om tersiêre opleiding hier ʼn volhoubare realiteit te maak, verteenwoordig ons jeug ons op kampusse landswyd. Sommige mense glo Orania kinders gaan die diverse en uitdagende omgewing van ʼn universiteit met ʼn agterstand binne, Orania jongmense bewys die absolute teendeel.
 
Roedolph Schumann het op eenjarige ouderdom ʼn Oraniër geword. Hy het in sy vormingsjare skoolgegaan by Volkskool Orania waar hy geleer het van selfdissipline en selfstandigheid. Roedolph het tussen ʼn lekker skoolrugbyloopbaan deur sy matriekeindeksamen gemaklik geslaag met ʼn gemiddeld van 75% en drie onderskeidings, waarna hy ʼn jaar lank as assistent landmeter gewerk het om geld te maak vir sy universiteitsloopbaan.
 
Praktiese werk is Roedolph se kos, maar die teorie daaragter fassineer hom ook. Daarom het is hy nie net gekeur vir B.ing Elektromeganies aan die NWU Puk nie, maar blink tans absoluut uit in sy rigting. Roedolph se gemiddeld vir sy kursus in sy eerstejaar se eerste semester is 79%, in skerp kontras met baie eerstejaars ingenieursstudente van oor die land wat nie die mas kan opkom nie.
 
Padlangs is nie Roedolph se voorkeur nie, hy geniet die buitelewe. Bergfiets ry, staptoere, die skietbaan of jagveld en Orania se wilde Oranjerivier is sy kos. Hy is ook ʼn kranige swemmer.
 
Passie beteken vir Roedolph dat hy ʼn verskil kan maak in die wêreld met sy vaardighede en kennis. Daarom het hy ingenieurswese gekies. Hy beplan om terug te kom Orania toe na sy studies maar sal waarskynlik eers bietjie ondervinding gaan opdoen in die buitewêreld.
 
As geïsoleerd beteken dat jy ʼn besondere diverse reeks belangstellings het, baie goed met mense oor die weg kom en maklik vriende maak, selfgedrewe genoeg is om ʼn taai kursus baas te raak en bowenal presteer saam met die beste in jou rigting kan mens seker sê Roedolph het geïsoleerd groot geword.
 
“Daar is niks in die lewe wat ek sal kies bo ʼn Desembervakansie in Orania nie!” sluit Roedolph af. Desembervakansies in Orania is onder die jeug bekend vir ‘legendariese’ kuiers en hope pret!


Enjoyed this post? Share it!