‘Ekonomiese Transformasie in SA nie anti-wit, maar pro Suid-Afrika’: Dlamini-Zuma

Radikale ekonomiese transformasie moenie wit mense afskrik nie, want dis nie anti-wit nie, maar pro-Suid-Afrika, het dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, een van kandidate om die ANC-leierskap, Vrydagaand gesê.

Dlamini-Zuma, wat ’n byeenkoms van die Progressive Profes­sionals Forum (PPF) in Woodmead, Johannesburg, toegespreek het, het ook vir die eerste keer pertinent bevestig dat sy om die ANC se leierskap in Desember gaan meeding.

“Ja, ek aanvaar die uitdaging, ek is in,” het sy haar antwoordsessie beëindig nadat sy pertinent daaroor gevra is.

Die sowat 90 ondersteuners, meestal lede van die ANC-jeugliga, vroueliga en die PPF, het opgespring en haar toegesing. Batha­bile Dlamini, omstrede minister van maatskaplike ontwikkeling, was ook in die gehoor.

Die gewese kabinetsminister en voorsitter van die Afrika-Unie het klaarblyklik haar veldtog verskerp, met ’n eerste televisieonderhoud wat sy Woensdagaand aan eNCA toegestaan het. Sy het aan John Perlman vertel van haar agtergrond en jare in die apartheidstryd.

Gister het Dlamini-Zuma by jeugbyeenkomste in Alexandra opgetree en ’n ANC-kaderforum in Parys, Vrystaat, toegespreek.

Môre is sy in Pretoria en later die week in Limpopo.

Die benoeming vir die ANC- leiersposte open volgende maand met verskeie top-ANC-lede wat reeds aangedui het hulle gaan aan die leierstryd deelneem.

Saam met Dlamini-Zuma en adj.pres. Cyril Ramaphosa het sommige takke ook ander kandidate genader. Dit sluit in Lindiwe Sisulu, minister van menslike nedersettings, Baleka Mbete, speaker van die Nasionale Vergadering, en Mathews Phosa, gewese ANC-tesourier. Ander wat aangedui het hulle is beskikbaar, is Paul Mashatile, ANC-voorsitter in Gauteng en Jeff Radebe, minister in die presidensie.

Gedurende vraetyd Vrydagaand het verskeie sprekers haar lof besing en haar as die “inkomende president” bestempel.

Dlamini-Zuma het gesê Afrikane behoort ook hul denke te verander, in hulself begin glo en “goed vir onsself doen”.
Sy het vertel hoe ’n Iraniër tydens haar termyn as minister van buitelandse sake aan haar gesê het die probleem van Afrikane is dat hulle soos voëls optree wat verlammend bly staan as hulle omring word. “Julle raak so bevrees, julle vergeet om weg te vlieg.”

Sy het gemaan die land kan in onstabiliteit verval as radikale ekonomiese transformasie nie plaasvind nie.
“As vroue en jong mense honger is, gaan hulle enigiets doen om te oorleef. Radikale ekonomiese transformasie is nie net vir swart mense nie, dis vir wit én swart mense. Wit mense moet deel daarvan wees. Dit sal almal bevoordeel.”

Volgens haar is die ekonomie nie eens in die hande van wit mense nie. “Dit word besit deur enkeles, wit en manlik.”
Die meerderheid in die land moet in die hoofstroom van die ekonomie gebring word, eers dan sal die land voldoende groei.

“As vroue nie ook in die ekonomie toegelaat word nie, sal die land nie sy volle potensiaal bereik nie.”
Sy is passievol oor onderwys. “Geen kind moet onderwys misgun word weens geld nie.”

As sy president word, sal daar opnuut gekyk word na die leerplanne, het Dlamini-Zuma gesê.

Deur: Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!