Erge besoedeling in Vaalrivier wek groot kommer – E. coli-tellings is die hoogste in die geskiedenis

Die omgewingsorganisasie Save the Vaal Environment (Save) dring by die regering aan op antwoorde oor die ergste rioolbesoedeling in die Vaalrivier in “menseheugenis”.

Maureen Stewart, Save se visevoorsitter, het Woensdag gesê druk moet op Randwater, die Emfuleni- plaaslike owerheid en die departement van water en sanitasie geplaas word om te sê wat gedoen word om te keer dat miljoene liter rioolvuil in die Vaalrivier, die ekonomiese slagaar van Gauteng, inloop.

Luidens die departement van water en sanitasie se jongste verslag oor die toestand van die Vaalrivier, is daar vandeesweek 435 000 eenhede E. coli per 100 ml water in die Rietspruit gemeet, waar dit in die Vaalrivier by die Loch aansluit.

Die departement waarsku  wanneer 400 eenhede E. coli per 100 ml water in ’n rivier, spruit of dam gemeet word, dit gevaarlik is vir mense se gesondheid.

Volgens Stewart is daar nog ’n brandpunt in die Vaalrivier, stroomop van Lochvaal: pompstasies by Drie Riviere in Vereeniging wat kort-kort breek en rou rioolafval wat deur die Kliprivier direk in die Vaalrivier vloei.

Die Rietspruit vloei vanaf Sebokeng tot in Lochvaal, ‘n rykmansbuurt aan die oewer van die Vaalrivier. Onverwerkte rioolvuil vloei ook onverpoos vanaf Ennerdale deur ’n kanaal na Lochvaal.

Die E. coli-telling in Lochvaal was verlede week 344 000 eenhede E. coli per 100 ml water.

“Die twee weke se E. coli-tellings is die hoogste in die geskiedenis,” sê Stewart.

Verskeie lesers het die afgelope week foto’s aan Netwerk24 gestuur van rioolvuil wat oor die gholfbaan by ’n spoghotel loop, dan in Golflaan in Drie Riviere afloop en daarna direk in die Kliprivier beland.

Volgens Save het die Emfuleni- plaaslike owerheid ’n klomp pompstasies herstel, maar hulle breek steeds die een ná die ander.

Bekommerde inwoners van Drie Riviere meen die geweldige hoeveelheid bouwerk in Drie Riviere is deels verantwoordelik vir hierdie “rioolkrisis”.

Stewart sê die Vaalrivier het in ’n rioolsloot verander en die besoedeling vernietig toerisme en landbou in die streek.

“Ons is geskok deur hierdie geweldige rioolbesoedeling. Save het verneem die situasie in Vereeniging kan toegeskryf word aan kragonderbrekings, vandalisme en die voortdurende werkery aan pypleidings.

“Dit het tyd geword dat die Emfuleni- plaaslike owerheid baie meer doen om die skokkende besoedeling van die Vaalrivier stop te sit.”

Die E. coli-telling stroomaf van die samevloeiing van die Klip- en die Vaalrivier is 19 180 eenhede per 100 ml water. “Dit is ’n enorme hoeveelheid rioolvuil wat in die Vaalrivier beland.”

Stanley Gaba, woordvoerder van die Emfuleni- plaaslike owerheid, het gesê hy sal later op Save se klagtes reageer.

Save sal hof toe gaan as die owerhede, Randwater, die Emfuleni- plaaslike owerheid en die departement van water en sanitasie nie bevredigende antwoorde gee nie, sê Stewart.

Sy het bekommerde Suid-Afrikaners gevra om 086 010 1060 te skakel en by Randwater aan te dring op antwoorde.

Justice Mohale, woordvoerder van Randwater, sê die besoedeling van die Vaalrivier het niks met hulle te doen nie.

“Dit is die taak van die departement van water en sanitasie,” sê hy.

Die departement van water en sanitasie se woordvoerder was nie vir kommentaar beskikbaar nie.

Stanley Gaba, woordvoerder van die Emfuleni- plaaslike owerheid, sê hy sal later op Save se klagtes reageer.

Die rioolbesoedeling vloei verder met die Vaalrivier af en bereik later die vakansiedorp Parys in die Vrystaat.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!