Erge interne verdeeldheid in ANC geledere en alliansies

Die interne verdeeldheid in die ANC se eie geledere, asook die ontevredenheid vanaf die kant van sy alliansievennote, die SAKP en Cosatu, het die naweek duidelik geblyk.

Spanning loop hoog binne die ANC oor die aanwysing van hulle voorkeurkandidate met die oog op die ANC se leiersverkiesing in Desember. Bewerings word oor en weer deur die twee kampe gemaak van bedrog rakende ledegetalle, en ernstige geknoeiery met die verkiesingsprosedures. In enkele gevalle gaan die geskille selfs in die hof besleg word, terwyl herverkiesings op talle ander plekke gehou sal moet word.

Selfs die party se sekretaris-generaal is ernstig onder skoot. Gwede Mantashe se kop word deur sekeres geëis nadat hy te kenne gegee het dat hy Cyril Ramaphosa steun as opvolger vir Jacob Zuma.

Bewerings dat partylede omgekoop word om veral vir Nkosazana Dlamini-Zuma te stem, het ook die lig gesien. In die een geval het die sosiale media gegons omdat die burgemeester van Bethlehem, Lindiwe Makhalema, glo die naweek betrap is met R2,8 miljoen kontant in haar voertuig, wat gebruik sou moes word om ANC-lede te oortuig om vir Dlamini-Zuma te stem. Die bewerings is nog nie verder bevestig nie, alhoewel waarnemers glo dat daar wel ‘n vuurtjie is as daar ‘n rokie trek.

Cosatu het intussen sy lede versoek om die ANC se konferensie in groot getalle by te woon “om toe te sien dat alles reg verloop”, en om vir Cyril Ramaphosa te stem.

Die afgedankte minister van hoër onderwys en leier van die Kommuniste Party, Blade Nzimande, het ook sy duidelike frustrasie laat blyk toe hy die ANC daarvan beskuldig het dat hulle soos `n ouer broer in die alliansie optree, en gesê daar kan nie tydens stemwerwing van die SAKP verwag word om steun vir die ANC te werf terwyl die party van die regerende party se besluitnemingsproses uitgesluit is nie.

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!