Ermelo deur rassisme geruk

 Die gemeenskap van Ermelo word die laaste tyd geteister deur voorvalle van rassisme vanaf veral die munisipale wetstoepassers, en daarin oënskynlik ondersteun deur die staatsaanklaer.

Mnr. Henry Geldenhuys, Adjunk-President van TLU SA en inwoner van die omgewing, het teenoor Die Vryburger bevestig dat daar groot probleme is. Een van die persone in die spervuur is Daniel Maluleka, ‘n voormalige verkeersbeampte wat tans direkteur van veiligheid en sekuriteit is by die plaaslike munisipaliteit. Maluleka het, na wat verneem word, voorheen al iemand doodgeskiet waarop hy skotvry gekom het. Die laaste voorval het hy doodsdreigemente en rassistiese aanmerkings gemaak teenoor mnr. Dennis Sinclair en sy dogter. Hulle het om Maluleka afgekom waar hy gedreig het om sy vuurwapen te trek teenoor twee wit mans. Daarna het Maluleka op hulle geskreeu, hulle as “white sh-t” uitgeskel en gedreig om die “hele wit spul” dood te maak.

In ‘n ander voorval het Nicolaas Sibeco, die munisipale verkeersbeampte, teenoor ‘n motoris uitgevaar en hom beskuldig dat witmense alles gesteel het en dat dit die rede is waarom hulle so ryk is.

Intussen het streeksaanklaer Jaco Badenhorst aangedui dat hy nie vir Maluleka gaan aankla nie, ten spyte van die klagtes wat mnr. Sinclair teen hom gelê het.

Mnr. Geldenhuys sê dit verbaas hom glad nie. “Die aanklaer wil nie graag sake aanvat nie en speel sommer self landdros met sy beslissings. Ook ons veediefstalsake word meeste van die tyd nie tot in die hof geneem nie.”

Bron: Vrybutger


 

Enjoyed this post? Share it!