ESKOM begin weer met hulle Beurtkrag, dit begin binnekort vir Vrystaatse dorpe

Eskom het kennis van moontlike beurtkrag aan verskeie Vrystaatse munisipaliteite gegee.

Dit volg op munisipaliteite se wanbetaling van rekenings, en die feit dat hulle nie afbetalingsooreenkomste nakom nie.

Indien die munisipaliteite nie dadelik aksie neem nie, sal beurtkrag op 27 September begin.

Die munisipaliteite wat geraak word, is Moqhaka (Kroonstad, Steynsrus, Viljoenskroon, Vierfontein), Masilonyana (Theunissen, Winburg, Brandfort, Verkeerdevlei), Nketoana (Reitz, Petrus Steyn, Lindley, Arlington), Dihlabeng (Bethlehem, Paul Roux, Rosendal, Fouriesburg, Clarens), Nala (Wesselsbron, Bothaville), Mantsopa (Ladybrand) en Tokologo (Dealesville).

In sy reaksie sê mnr. Wouter Wessels van VF Plus daar is geen beter voorbeeld van die ANC se nalatenskap as die Vrystaatse munisipaliteite nie.

Wessels het in ʼn ledeverklaring in die wetgewer gesê dat die ANC eens ʼn magtige vryheidsbeweging was wat die hemel en aarde aan sy ondersteuners belowe het, maar nou soos ʼn gewonde dier spartel om te red wat hy kan na hy in die bestek van 23 jaar die land se ekonomie, hulpbronne, infrastruktuur en instellings rot en kaal besteel en in die grond in regeer het.

“Die ANC-regering bestee geld aan luukshede, soos Kersfeesliggies en naamborde in plaas daarvan om betalings aan Eskom en ander krediteure te prioretiseer.

“Betalende verbruikers ly dus hoofsaaklik onder hierdie wanbestuur.

“Die ANC het gegaan van ʼn magtige revolusionêre beweging na ʼn bende van korrupte en geldgierige diewe wat wegkruip agter bangmaakstories oor witmense om hul eie oneerlikheid te verbloem.

“Terwyl die ANC steel, ly die mense van die Vrystaat. Hulle behoort hulself te skaam,” sê mnr. Wessels.


Enjoyed this post? Share it!