Eskom se hoof kry meer as R9 miljoen

Brian Molefe, Eskom se nuwe uitvoerende hoof, se vergoeding in die boekjaar tot einde Maart was R9,4 miljoen. Die inligting in Eskom se jaarstate toon dit sluit ’n salaris van R6,9 miljoen en ’n bonus van R2,4 miljoen in.

Molefe het van 20 April verlede jaar waargeneem en is op 25 September aangestel.

In dié boekjaar het die staat R23 miljoen in Eskom belê om hom te help.

 Eskom se resultate het vandeesweek getoon sy verkope het gedaal en die enigste rede vir die styging in sy inkomste was hoër kragpryse. Sy bedryfswins het gestyg nadat die koste in toom gehou is.

Die jaarstate toon die vergoeding van uitvoerende direkteure het met 275% opgeskiet van R8 miljoen tot R30 miljoen weens Molefe se hoë vergoeding asook die vet skeidingspakkette wat twee direkteure gekry het wat verlede jaar tydelik geskors was – Tshediso Matona, voormalige uitvoerende hoof, en Tsholofelo Molefe, finansiële direkteur.

Matona en Tsholofelo was onder die vier Eskom-topbestuurslede wat in Maart verlede jaar geskors is hangende ’n ondersoek na die talle probleme wat Eskom geteister het.

In Julie verlede jaar is aangekondig in die onafhanklike ondersoek is geen oortreding deur enige van die geskorste direkteure en topbestuur gevind nie.

Matshela Koko, voorheen hoof van tegnologie (nou van kragopwekking) is dadelik heraangestel.

Eskom sê in sy jaarverslag ná die ondersoek het Dan Marokane, voormalige groephoof van kapitaal, en Tsholofelo Molefe albei ooreengekom dat hul weë van Eskom skei.

Matona het reeds effektiewelik einde Mei bedank.

Matona se vergoeding het R7 miljoen beloop (ingesluit ander betalings van R6 miljoen). In die vorige boekjaar het hy R3 miljoen gekry. Matona is begin Oktober 2014 as uitvoerende hoof aangestel en in Maart verlede jaar geskors hangende die ondersoek. Die jaarverslag toon hy het op 30 Junie 2015 bedank. Sy vergoeding in die afgelope boekjaar was dus vir drie maande, en in die vorige boekjaar vir ses maande.

Tsholofelo Molefe s’n het R8 miljoen beloop (ingesluit ander betalings van R6 miljoen). In die vorige boekjaar het sy R4,9 miljoen gekry. Sy het ook einde Junie laas jaar bedank.

Marokane se skeidingspakket het daartoe gelei dat die Eskom-topbestuur (nege vanjaar vergeleke met tien in die vorige jaar) se vergoeding ook skerp met 19% tot R38,6 miljoen gestyg het. Hy het R8,2 miljoen gekry (ingesluit is ’n skeidingspakket van R6,2 miljoen).

Koko het R5 miljoen gekry vergeleke met R3,7 miljoen in die vorige jaar.

Dit sluit ’n bonus van amper R1 miljoen in en ’n betaling in verband met aandele wat verkry is.

Bron: Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!