Establishment-witbroodjie Ramaphosa tref slaggat

Die adjunkpresident van Suid-Afrika, Cyril Ramaphosa, wat allerweë as die establishmentkandidaat gesien word betreffende die magstryd om die ANC-leierskap, het oor die naweek ‘n slaggat getref in die vorm van ‘n seksskandaal. Selfs die rand het in reaksie op die nuus matig verswak vanaf R12,90 per VS-dollar tot R12,97.

Ramaphosa het ter elfder ure gepoog om die onthullings oor sy privaat lewe deur die koerant Sunday Independent te keer by wyse van ‘n dringende aansoek in die Gautengse Hooggeregshof, Johannesburg- plaaslike afdeling. Regter Vally het egter Saterdag bevind dat Ramaphosa geen gronde het om publikasie te verhoed nie. Die advokaat vir die verdediging het gemeen dat Ramaphosa eerder ‘n lastereis teen die koerant moet instel as om te poog om vooraf sensuur deur die hof te eis.

Ramaphosa word allerweë as die establishment-kandidaat gesien wat Jacob Zuma moet opvolg, vanweë sy bande met die Johannesburgse sakewêreld en bepaalde oligarge wat ‘n groot deel van die SA ekonomie beheer. Die onthullings dat Ramaphosa blykbaar ten minste agt minaresse gehad het terwyl hy steeds getroud is, het sy openbare aansien geknou.

Op verskeie radiostasies is daar gepoog om die skade te beperk deur argumente dat Ramaphosa se privaat lewe niks met sy politiek of sy integriteit as politikus te make het nie. Die redaktrise van die Suid-Afrikaanse Huffington Post, Ferial Haffajee, het gereageer deur te sê:

“Suid-Afrika volg nie die seksuele waardes van vele Westerse nasies waar ‘n seksskandaal ‘n politikus tot ‘n val mag bring nie. Ons norme is van Afrika en om op ons vasteland ‘n manlike politieke leier te vind wat nie ‘n eggenote en verskeie minaresse aanhou nie, is soos om vir die spreekwoordelike naald in die hooimied te soek…

Die skandaal sal waarskynlik bloot sy aantreklikheid as ‘n prins vir die meer konserwatiewe blanke Suid-Afrikaners en vir die sakegemeenskap skaad, wat hom vergoddelik het as iemand sonder foute en die antitese van die bankrotskap van president Jacob Zuma. Nou het hy hom onthul as sterflik en met voete van klei. En, blykbaar, met meer minnaresse as wat Zuma vrouens het.”

Ramaphosa het in ‘n kwalik bedekte aanval op die Zuma-kamp teruggekap deur te sê dat staatshulpbronne soos die nasionale intelligensiediens misbruik word om magstryde binne die ANC te besleg.

“Dit moet gesien word binne die konteks van ‘n breër veldtog gemik teen verskeie politieke leiers, vakbondleiers, joernaliste en aktiviste in die breër samelewing,” het Ramaphosa Saterdag in in ‘n verklaring gesê.

Die skandaal sal waarkskynlik die Zuma-kamp se hand sterk en mev. Dlamini-Zuma se kanse verhoog om in Desember leier van die party en uiteindelik president van die land te word.

Deur: Praag


Enjoyed this post? Share it!