FW de Klerk aangekla van Hoogverraad deur Kogesa

FW de Klerk aangekla van Hoogverraad deur Kogesa, die Kommissie van Volks-Geregtelike Ondersoek na Staatkundige Verandering in SA:

Op Donderdag, 24 April 2014, is ‘n Klagskrif van Hoogverraad teen Frederik Willem de Klerk deur Mnr. Paul Kruger op die FW de Klerk Stigting se kantore in Plattekloof, Kaapstad beteken. Mnr. Dave Stewart van die Stigting het geweier om ontvangs van die dokument te erken; waarna Mnr. Kruger die oorspronklike daarvan by Mnr. Stewart gelaat het met „n versoek dat dit aan F.W. de Klerk oorhandig word. Hierdie prosedure behoort voldoende te wees om in ‘n hof erken te word as synde ‘beteken’ op die beskuldigde.

‘n Opsomming van die Klagskrif lui as volg: 

1. As Staatspresident het FW de Klerk „n eed gesweer dat hy, onder andere, die tersaaklike Grondwet (Wet 110 van 1983) sal gehoorsaam en handhaaf.

2. Daardie Grondwet het onder meer die volgende bepaal:
2.1 Die Aanhef en ook Art. 2 daarvan het die oppergesag van die Almagtige God erken.
2.2 Geen ander bevolkingsgroep het oor Blankes heerskappy gevoer nie en Blankes, Kleurlinge en Indiërs het almal hulself regeer betreffende “eie sake” (beide in wetgewende- sowel as uitvoerende- oftewel administratiewe opsig).
2.3 Blankes, Kleurlinge en Indiërs was stemgeregtigde kiesers en elk van hierdie groepe is afsonderlik in een van drie Huise verteenwoordig. Die Parlement het bestaan uit hierdie drie Huise gesamentlik. (In geval van Swartes, kon elke Swart volk sy strewe na volle selfbeskikking verwesenlik kry in daardie gebiede wat hulle tradisioneel bewoon het).

2.4 Wat “algemene sake” betref was die hoogste wetgewende gesag gesetel in die Staatspresident en die Parlement; en die hoogste uitvoerende gesag in die Staatspresident en die Kabinetsministers.

3. Die Nasionale Party se verkiesingsmanifes en beleid in die laaste “Blanke” verkiesing van 6 September 1989, het behels dat geen nuwe grondwetlike wetgewing in die 1989-94 Parlementêre termyn aangeneem sal word, alvorens die RESULTAAT van grondwetlike onderhandelinge nie vooraf eers aan die destydse kieserskorps vir hulle goedkeuring voorgelê word nie.

Indien die kieserskorps nie met die uitslag van onderhandelinge tevrede sou wees nie, sou die onderhandelings verder gevoer word en „n nuwe Grondwet deur die Parlement geloods word eers nadat „n meerderheid kiesers die terme van „n nuwe bedeling goedgekeur het. (Hierdie beginsel in bevestig in talle NP-Beleidsdokumente asook in etlike Parlementêre toesprake, ).

4. Terselfdertyd het die NP se verkiesingsmandaat, soos uitgespel in sy Beleidstukke daarop gehamer dat „n Grondwetlike bedeling van Swart getalle-oorheersing geensins NP-beleid is nie; maar eerder “magsdeling”.

5. Tydens die Referendum van 1992 is geen voorstelle vir „n nuwe Grondwet aan die Blanke kieserskorps voorgelê vir goedkeuring nie. Die “Ja”-stem was bloot „n goedkeuring vir “voortsetting van die hervormingsproses gerig op „n nuwe Grondwet.

Ten spyte daarvan het die beskuldigde die volgende gedoen:

6. In 1993 het De Klerk – steeds sonder om enige klinklare voorstelle vir „n nuwe Grondwet aan sy kieserskorps voor te lê – „n nuwe Kieswet deur die Parlement geloods wat stemreg (heeltemal in botsing met die 1983-Grondwet wat toe nog van krag was) aan “elke Suid-Afrikaanse burger” of permanente inwoner toegestaan het en selfs ook aan “voormalige” Suid-Afrikaanse burgers. Volgens Suid-Afrikaanse Appélhof-gesag kan geen Parlement „n wet wat strydig met sy eie bestaande Grondwet is, deur die Parlement loods nie (volgens die sogenaamde “Harris”-sake wat in die 1950‟s beslis was).

7. Net so het De Klerk „n “Uitvoerende Oorgangsraad” ingestel op 7 Desember 1993, wat – weereens totaal in botsing met die Grondwet – maande voor die 1994-verkiesing alreeds seggenskap oor alle Uitvoerende Gesag in Suid-Afrika – insluitende die Kabinet – verkry het op alle terreine byvoorbeeld die Weermag, Polisie, Buitelande Sake, Intelligensiedienste, Finansies, ensovoorts. Sekere lede van hierdie “Uitvoerende Oorgangsraad” (soos Joe Slovo, Mac Maharaj, Ceril Ramaphosa en andere) was op daardie stadium nie eens stemgeregtigde kiesers nie – vergeet nog van verkose. Die Uitvoerende Oorgangsraad het nie net seggenskap oor Staatsdepartemente verkry nie, maar kon ook enige Wetgewing veto – nog voor dit aan die Parlement of elders voorgelê word – wat volgens die Uitvoerende Oorgansraad nie die “demokratiseringsproses” gedien het nie.

8. De Klerk het verdermeer in 1993 „n “Oorgangsgrondwet” deur die Parlement geloods wat op 27 April 1994 in werking getree het. Ook hierdie “Oorgangsgrondwet” het heeltemal met die destyds-geldige Grondwet van 1983 gebots en dan nog „n Klousule bevat dat, selfs indien die OVK (“IEC”) nie die ‟94- Verkiesing as “vry en regverdig” sou kon verklaar nie, „n nuwe (d.w.s. Swart) Parlement desnieteenstaande ingestel sou kon word op die basis van kieseruitslae wat wel beskikbaar mog wees. De Klerk bevestig dan ook in sy outobiografie dat die ‟94-verkiesingsuitslae so chaoties was dat daar regsgronde was om dit in howe te beveg. Hy het dit nooit gedoen nie; met die gevolg dat die huidige (1996-) Grondwet aangeneem is deur „n “Grondwetgewende Vergadering” wat uit valse verkiesingsuitslae saamgestel was.

9. Die definise van Hoogverraad sluit in: “Wederregtelike gedrag deur iemand wat trou verskuldig is aan die Republiek, met die opset om die grondwetlike struktuur van die Republiek te verander”.

10. Die submissie is dat De Klerk (en andere) se gedrag heeltemal voldoen aan alle elemente van hierdie misdryf, te wete hoogverraad.

Die Klagskrif teen FW de Klerk is voorgelê aan KOGESA (Die Kommissie van Volks-Geregtelike Ondersoek na Staatkundige Verandering in SA) om in die openbaar aangehoor te word op 31 Mei 2014 te Willie Marais Afrikaner sentrum, Neethlingstraat 199, Eloffsdal, Pretoria.

Enjoyed this post? Share it!