Gariep Kunstefees in die spervuur – EFF-raadslid bestempel dit as ’n “wit fees”

Raadslede van die EFF en ANC het verlede week op ’n raadsvergadering van die Sol Plaatje-munisipaliteit gedreig om die Gariep Kunstefees se geldkraan toe te draai.

Die fees, wat jaarliks duisende besoekers na die Diamantstad trek en as een van die toerismehoogtepunte in die Noord-Kaap bestempel word, het in 2017 ’n bedrag van R1,6 miljoen van die Sol Plaatje-munisipaliteit ontvang, onderhewig aan voorwaardes.

Die voorwaardes sluit onder meer in dat bewys moet word hoe die munisipaliteit by die fees baat vind, hoe dit ekonomiese transformasie bevorder, hoe die stad en sy inwoners bevoordeel word en by watter korporatiewe maatskaplike ontwikkelingsprojekte die fees betrokke is.

Die herrie het losgebars toe die EFF-raadslid Francis Thulo die Gariep Kunstefees as ’n “wit fees” bestempel het. Hy het na ’n post-feesverslag verwys en gesê hy glo die Gariep-fees ondermyn die raad, glo omdat die fees nie deursigtig genoeg is nie. “Ons gee baie geld. Ek dink hul begroting moet verminder word.”

Die DA-raadslid Philip Vorster het hierop gesê hy stem saam dat die raad se finansiering vir feeste hersien moet word, maar bygevoeg dat dit alle feeste in die Sol Plaatje-munisipaliteit moet geld, nie net die Gariep-fees nie.

Volgens Vorster doen die Gariep-fees elke jaar volledig verslag oor sy aktiwiteite. “As ek nou na die Gariep-kunstefees gaan, sal hulle vir my ’n volledige verslag kan gee oor die presiese bestedingsbedrag, die in­komste en die impak op Kimberley. Ander feeste doen dikwels nie so volledig verslag nie.”

Die burgemeester, Mangaliso Matika, het Vorster in die bek geruk en gesê: “Ons weet jy verwys na die Diamonds en Dorings-musiekfees. Jy moenie ’n wanindruk probeer wek dat dié musiekfees nie aan die raad verslag doen nie. Jy moenie na hierdie huis toe kom en ’n volkstaat probeer verdedig nie!” het Matika vir Vorster toegesnou.

Die ANC-raadslid Ronney Morwe, ’n lid van die burgemeesterskomitee, het gesê dat van alle feeste verwag word om verslag te doen en te verduidelik waarvoor al die geld aangewend word. Hy het gesê die Gariep Kunstefees se feesprogram is “die slegste, slegste” wat hy al “ooit gesien het”.

Volgens Morwe word die fees in ’n gebied gehou wat sommige inwoners uitsluit.

“Ons gaan finansiering aan die Gariep Kunstefees stop en op die Diamonds en Dorings-musiekfees konsentreer,” het Morwe gesê.

Thulo het gesê: “Daar is geen deursigtigheid wat die Gariep-fees betref nie, want wit mense bestuur dit. Ons moet kyk wat die organiseerders vir die gemeenskap doen. Wat ploeg hulle terug? Hierdie fees ondermyn ons raad.”

Die DA-raadslid Sharon Steyn het gesê die Gariep-fees bring jaarliks geld in vir Kimberley. “Of ons nou van die Gariep Kuns­tefees of die Diamonds en Dorings-musiekfees praat, al die feeste bring geld na Kimberley.”

Volgens Steyn is die burgemeester en die munisipale bestuurder, Goolam Akharwaray, persoonlik deur die Gariep Kuns­tefees na die fees uitgenooi.

“Daar was honderde skole wat die feesterrein vanjaar gratis besoek het. Hierdie fees gaan nie oor velkleur nie. Dit is ’n fees.”

Hierop wou Matika weet of Steyn as uitvoerende hoof van die Noord-Kaapse Kamer van Koophandel en ­Nywerheid (Nokki) praat of as DA-raadslid.

Bernice Versluis, uitvoerende bestuurder van die Gariep Kuns­tefees, het ná die hele debakel gesê: “Ek nooi enigeen uit om te kom kyk wat ons doen en hulle sal sien hulle bak kluitjies.”

Volgens Versluis is dié fees waarskynlik een van die mees inklusiewe en verteenwoordigende in die stad. Sy het die post-feesverslag van 57 bladsye aan Netwerk24 gestuur.

Luidens die verslag is die naam van die Gariep-fees deur die politieke filosoof Neville Alexander geïnspireer, wat die idee van “Gariep” gebruik “as ’n metafoor vir nasie in ’n moderne, multisosiale Suid-Afrika, ’n vloeiende samesmelting, in die voorgrond van die reënboogmetafoor waar die verskillende kleure afsonderlik bly”.

Luidens die verslag het die fees vanjaar 45 000 besoekers gelok en ses permanente en 408 tydelike poste geskep. Daar was 187 stalletjiehouers, 127 nasionale en 171 plaaslike kunstenaars, 16 produksies, 69 items op die program en drie uitreikprojekte waarby meer as 1 000 minder bevoorregte kinders asook verstandelik gestremde volwassenes betrek is. Twee gratis werksessies is vir die jeug aangebied.

Die agt korporatiewe maatskaplike begunstigdes sluit in Kansa, Caritas, Reach for a Dream, die Nasionale Bloeddiens (SANBS), Sanparke, die Bors­melk­reserwebank (SABR), die Orgaanskenkingstigting en die DBV.

Die plaaslike besteding was bykans R1,6 miljoen en die fees het nog elke jaar ’n ongekwalifiseerde ouditverslag ontvang.

Enjoyed this post? Share it!