Gastehuis word gedreig om gesluit te word a.g.v ras

Aantygings teen ‘n gastehuis in Sodwanabaai word op provinsiale vlak ondersoek nadat die eienaar se benadering om “nie meer swartes en staatsamptenare te akkommoddeer nie,” aan die groot klok gehang is.

Die LUR vir ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake, Sihle Zikalala, het amptenare gevra om ondersoek in te stel na die saak.

Hy het ook sy departement gelas om vas te stel of die besigheid voldoen aan die wetlike vereistes ten opsigte van registrasie en lisensiëring.

Selfs die minister van toerisme, Derek Hanekom het sy stuiwer in die armbeurs gegooi oor die saak.

Die Menseregtekommissie (MRK) is ondertussen deur die DA bedank vir sy besluit om die saak te ondersoek. Die DA-leier het ook aangedui dat dit vir hom ‘n persoonlike kwessie is omdat hy glo vroeër al persoonlik aanlyn deur die gastehuiseienaar, André Slade, aangevat is.

Toerisme instellings in Sodwanabaai het vinnig gespring om hulle te distansieer van Slade.

Sy e-posantwoord aan ‘n voornemende gas hieromtrent is deur haar op Twitter geplaas en het die verwagte wye reaksie ontlok. Ook Slade se stawing van sy benadering op grond van die Bybel, is veroordeel met opmerkings dat Suid-Afrika ‘n sekulêre land is.

Die iSimangaliso vleilandpark se bestuur het hom van die gastehuis gedistansieer en gesorg dat ‘n skriftelike klag omtrent die saak na die MRK en die Openbare Beskermer gestuur word.

Die park het ook baie seker gemaak dat gemeld word die gastehuis val nie binne sy grense nie en dat daar geen betrekkinge met die gastehuis of sy eienaar bestaan nie.

Die gastehuis se advertensie op ‘n toerisme webblad, sodwanabay.com, is ook onmiddellik verwyder nadat die “rassistiese e-pos” aan die lig gekom het, aldus Steve Rubin wat die webblad bedryf.

Foto – Die gastehuis se e-posboodskap soos dit op Twitter versprei is

Bron: Vryburger/Times live


Enjoyed this post? Share it!