Gauteng-onderwys staar ernstige finansiële krisis in gesig

Die Gautengse departement van onderwys word deur ʼn ernstige finansiële krisis in die gesig gestaar.

Só het Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in die provinsie, Sondag gesê. Hy het joernaliste by die nuutgeboude Nokuthula LSEN School in Lyndhurst in die noorde van Johannesburg toegespreek.

“Ons is onder abnormale finansiële druk. Ons herroep rekenaartablette en slegs matriekleerders sal hulle voortaan ontvang weens finansiële moeilikheid,” het Lesufi gesê. Die departement sit volgens hom met ʼn tameletjie aangesien die nasionale tesourie gesê het geen nuwe geld sal aan onderwys toegeken word nie.

Volgens Lesufi is alles egter gereed vir die meer as 150 000 leerders wat môre met die 2017-matriekeindeksamen moet begin. Drie skole, waaronder Klipspruit-West High School en ʼn skool in Lenasia, word wel noukeurig gemonitor weens onlangse probleme by dié skole. “Ons het ʼn bystandspan wat gereed staan om vraestelle in te neem indien daar betogingskwessies is,” het hy gesê.

Altesaam 150 090 leerders is ingeskryf om matriekeindeksamen te skryf. Dit sluit 108 594 voltydse leerders en 41 497 deeltydse kandidate in.

In die lig van onlangse onthullings van seksuele misdade by verskeie skole in Gauteng, het David Makhura, die Gautengse premier, ʼn spesiale komitee aangestel om die veiligheid van leerders te verbeter. Lede van die komitee sluit Lesufi, Sizakele Nkosi-Malobane, die LUR vir gemeenskapsveiligheid, en Nandi Mayathula-Khoza, die LUR vir maatskaplike ontwikkeling, in.

Lesufi het gesê die komitee sal met veiligheidswagte, skoolhoofde en skoolmeisies binne die volgende 30 dae vergader soos deur die premier beveel is.

Lesufi het ook die jongste inligting oor die departement se nuwe aanlyn toelatingstelsel gegee en gesê die ou metode “was moeilik om te bestuur”. Hy het al die ouers bedank wat van die nuwe platform gebruik gemaak het. “Ouers doen nou aansoek by skole waaraan hulle vantevore nooit eens sou gedink het nie,” het hy gesê.

Hy het gesê minstens 285 834 leerders moet nog by skole geplaas word, terwyl 222 000 reeds geplaas is. Leerders wat nog nie geplaas is nie, is te wyte aan ouers wat nie die skool waaraan die leerders toegeken is, bevestig het nie. Ouers het egter nog tot 31 Oktober kans om plasings te aanvaar en te bevestig.

Aansoeke sal vanaf 1 November weer oopgestel word en slegs skole wat nog plek het, sal dan as opsies beskikbaar wees om uit te kies. “As jy ʼn skool verwerp waaraan jy toegeken is, is dit nie ons skuld nie; ons het ons grondwetlike verpligting as departement nagekom,” het Lesufi gesê.

Daar is 2017 openbare skole in Gauteng wat graad 1 en graad 8 aanbied. Meer as 400 van hierdie skole se graad 1- en 8-klasse is reeds vol. “Die name van die skole wat klaar vol is, sal nie beskikbaar wees wanneer die aansoeke heropen nie,” het Lesufi beklemtoon.

Deur: Maroela Media


Enjoyed this post? Share it!