Gautengse LUR vir Gesondheid sonder meubels ná balju toeslaan

Dr. Gwen Ramokgopa, Gautengse LUR vir gesondheid, sit sonder meubels in haar kantoor nadat die balju dit verwyder het om die departement te dwing om R6,2 miljoen vir mediese nalatigheid te betbaal.

Altesaam 400 lessenaars, 600 stoele, 400 rekenaars, 50 drukkers, 10 yskaste, 10 mikrogolfoonde, drie sitkamerstelle en 200 liasseerkabinette is Donderdag uit die kantoor van Ramokgopa en ander afdelings verwyder.

Volgens Jack Bloom, DA-woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, is die aksie uitgevoer deur O. Joubert-prokureurs wat optree namens ’n kind wat breinskade opgedoen het toe sy in Desember 2009 in die Pholosong-hospitaal gebore is.

Hy sê die hof het gelas dat vergoeding teen 8 Maart vanjaar betaal word. Die departement het nog nie betaal nie – ondanks die feit dat oor paaiemente ooreengekom is.

“Dit is ’n vreeslike onreg dat hierdie saak al langer as sewe jare met verdere lyding vir die kind en haar familie sloer en nou vertraag die departement dit verder.

“Ek is jammer dat die departement weereens ’n hofbevel geïgnoreer het – wat gelei het tot die beslaglegging op meubels wat die werk van hoofkantoorpersoneel vertraag,” sê Bloom.

Hy sê betalings wat agterweë bly, dra ook by tot die koste aangesien ’n 10,5%-boete gehef moet word. In hierdie geval beloop dit meer as R300 000.

Die departement het bevestig dat die balju meubels geneem het.

Prince Hamnca, woordvoerder van die departement, sê van die meubels staan nog in die hoofkantoor.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!